Straatfees en aandmark vir gholftoernooi beplan
Straatfees en aandmark vir gholftoernooi beplan

Parys is van 12 tot 15 Mei die gasheer vir die 26ste Senior Dames Nasionale Gholftoernooi waaraan nagenoeg 220 dames gholfspelers bo 50 jaar sal deelneem.
Die toernooi roteer van provinsie tot provinsie, en vanjaar is dit die Vrystaat se beurt.
Nie net beskik die dorp oor twee prag gholfbane nie, maar spog ook met ‘n eie karakter, genoeg akkommodasie en talle buitemuurse aktiwiteite in besondere natuurskoon.
Juis daarom word ‘n straatfees en aandmark vir Dinsdag 14 Mei beplan om die dames wat aan die toernooi deelneem, kans te gee om ook Parys se unieke winkels te waardeer en te ondersteun.
Die plan is dat winkels en restaurante in die middedorp op dié dag tot 21:00 oop sal wees, met straatmusikante wat op sentrale punte musiek sal verskaf om ‘n straatfees atmosfeer te skep.
* Parysenaars word genooi om die tradisionele openingseremonie van die toernooi by te woon op Sondag 12 Mei om 17:00 by die Parys Golf & Country Estate, asook die straatfees.




