NewsNews

Ouerpaar waarsku

Misdaad is 'n realiteit

Alles het in die kwessie van minute gebeur. Sy het saam met haar twee jongstes by die trollie tussen die speelgoedrakke in ‘n bekende kruidenierswinkel in Parys gewag terwyl haar man hul seuntjie badkamer toe gevat het.

Skielik het ‘n man verbygekom en hul dogtertjie van net oor die twee jaar uit die trollie gelig en met haar begin aanstap. “Wat maak jy?” het sy geskree terwyl sy agter die man aangehardloop het.

Hy het geskrik, die kind gelos en gemaak dat hy wegkom.

Die voorval het Sondagoggend 21 Julie in Parys gebeur.

Die geskokte ouerpaar het die bestuur en personeel van die kruidenierswinkel in kennis gestel en kon daar ook ‘n duidelike beskrywing van die man gegee word. Ook die polisie is van die voorval verwittig. Beide die winkelbestuur en die polisie het die voorval in ‘n baie ernstige lig beskou en dadelik werk daarvan gemaak om die beskrywing van die man te sirkuleer en ander takke in kennis te stel van die voorval. “Hulle het ons geweldig baie ondersteun.”

Maar dit kon enige plek, enige tyd gebeur het, sê die ouerpaar. Selfs in ‘n parkeerarea. Die belangrikste is dat hulle wil hê ander ouerpare moet bewus wees van die gevaar – selfs in ‘n plattelandse dorpie.

Vir ouers is ‘n uitstappie winkels toe dikwels ‘n uitdaging veral wanneer kinders baie klein is. Juis daarom moet jy ekstra versigtig wees, waarsku die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF). Hul raad is om seker te maak jy het jou kinders te alle tye onder jou oë en dat jy hulle nie alleen iewers in die winkel of elders los om gou iets te gaan haal of te doen nie.

Maak seker dat jou kinders weet dat hulle saam met niemand mag gaan tensy jy toestemming daarvoor gegee het nie.

Selfs ouer kinders moet geleer word om nie saam met iemand in die motor te klim nie. As hulle ‘n saamrygeleentheid kry, maak seker dat jy in kennis gestel word saam met wie hul ry en wanneer om hulle by die huis te verwag.

Maak duidelike reëlings met jou kind van waar en hoe laat jy hulle oplaai. Weet wat hul middagprogram is en waar hulle wanneer sal wees. Ook wanneer buitemuurse aktiwiteite gekanselleer sou word, vra die afrigter om die boodskap aan die betrokke ouers te kommunikeer.

Maak ook seker jou kinders ken jou telefoonnommer sommer van kleins af.

Misdaad is ‘n realiteit en juis daarom moet jy op jou hoede wees.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button