Die kuiervure het die afgelope naweek hoog gebrand by die Likkewaan-kanoklub vir ’n weersien van oudskoliere en onderwysers van Hoërskool Parys.
Die Toeka tot ’95 reünie-saamkuier in September, is die afgelope ses jaar al instelling vir oudskoliere en onderwysers van dié skool. Hier word kosbare herinneringe van saamlag, kattekwaad en onthou-oomblikke geruil.
Die gedagte van ‘n jaarlikse gesamentlike reünie-kuier het eintlik ontstaan by ’n begrafnis van ‘n skoolvriend waar Bertus Booyens, wyle Kobie Pienaar en Corrie (Stelzner) Venter met die idee vorendag gekom het. Hulle het dit met nog skoolmaats bespreek en sommer gou was die bal aan die rol met die hulp van onder meer Petro Jansen van Rensburg, Willemiena (Swan) Booyens, Piet en Sonet Duvenhage, Colin Benjamin, Deon van Vuuren en Saal de Jager.
Omdat die skool nie so groot is nie, was die plan om as groep saam te kuier, ongeag van die jaartal waarin daar gematrikuleer is. Die kuier het toe naam gekry aanvanklik as “Parys Toeka tot ’85”, en is die soektog na oudskoolmaats begin. Facebook het baie gehelp en só is die eerste groot fees gehou.
Die sukses hiervan was so groot dat dit jaarlikse instelling geword het met bywoningsgetalle wat gewissel het van 80 tot 180, met selfs oudskoliere wat in die vyftigerjare hier gematrikuleer het, en sommige wat al van sover as die Kaap en Namibië gekom het. Die oudste wat die afgelope naweek se reünie bygewoon het, was Adriana (Bierman) le Grange. Sy is een van ‘n groot groep neefs en niggies wat almal hier op skool was.
Twee 50-jaar reünies is ook al tydens die saamkuier-naweke hier gehou.

VAN LINKS NA REGS: Danie Booyens, Petro (le Grange) Scheepers, Japie Bierman, Anette (Bierman) Brits. Adriana en Bertus Booyens.
Van die oud-onderwysers wat al in die verlede kom saamkuier het, was wyle mnre. Koos Kleynhans en Koos Marais, mnr. Van Rooyen, mnr. en mev. Stander en mnr. Marius du Plooy.
Die Likkewaan-kanoklub baat ook omdat die groep naas die huur van die geriewe vir die dag, ook sorg dat ekstra fondse bymekaar gemaak word om as donasie vir die klub te oorhandig.





