
Menige Parysenaar sal nog die toewyding onthou waarmee Hennie Smith vir baie jare sy passie vir karate oorgedra het aan menige karate-student in die sysaal van die dorp se stadsaal.
Sy vriendelike geselsies wanneer jy ‘n radio of TV laat regmaak het by die destydse Radio, Electric & TV in Kortstraat.
Hennie is vanoggend, Maandag 24 Februarie, in Virginia oorlede. Hy was 78 jaar oud.
Hennie en sy vrou, Ella sou net dié naweek na Bloemfontein verhuis het waar hul plekkie in die ouetehuis uiteindelik gereed was. In Januarie vanjaar het die egpaar na Ella se suster in Virginia verhuis waar hulle tydelik gebly het totdat hulle na Bloemfontein kon gaan.
Vroeg in Februarie het Hennie egter siek geword en is hy gehospitaliseer met chroniese longinfeksie waarmee hy baie lank gesukkel het.
In die 51 jaar wat hulle in Parys was, het hy aanvanklik by Erik Radios in Middelstraat gewerk toe die weduwee van wyle mnr. Saunders, iemand gesoek het om te help in die onderneming. Daarna het hy sy onderneming, Radio, Electric & Tv in Kortstraat begin, wat hy vir jare bedryf het totdat hy ‘n beroerte gehad en genoodsaak was om af te tree en die besigheid te sluit.
Ook sy karateklub waar hy met soveel passie klas gegee het, het hy weens sy gesondheid oorgegee aan Kobus Grobler.
Die herinneringsdiens vir Hennie sal Vrydag 28 Februarie om 11:00 vanuit die NG Suid-gemeente in Parys gehou word.
Hennie word oorleef deur sy vrou, Ella, wat vir bykans 20 jaar lank klerk van die hof by die Parys landdroskantoor was, hul drie kinders, 8 kleinkinders en drie agterkleinkinders, asook sy suster, Ansie Maritz.





