Skrywers se stem vir storievertel geslyp
Bekroonde skrywers en joernaliste, Carla van der Spuy en Yolanda Barnard-Lemmer, het die interaktiewe en praktiese werkswinkel gelei.
Woordkuns. Die liefde vir taal en ‘n passie om te skryf, het aspirant en ervare skrywers saamgesnoer op Doringbos waar kreatiwiteit en praktiese wenke geslyp is by ‘n skryfwerkswinkel aangebied deur die ATKV Vredefort Koepel, in die hart van dié prag wêrelderfenisgebied.
Aan die woord was die bekroonde skrywers en joernaliste, Carla van der Spuy en Yolanda Barnard-Lemmer, wat met ‘n interaktiewe en praktiese werkswinkel op unieke, en spontane manier, kreatiewe inspirasie gegee het om deelnemers te lei om met selfvertroue hul idees op papier te verwoord.
Met byna 50 jaar se ervaring as joernalis, en met die skryf van nie-fiksie is Carla deurwinter in die aanbied van talle ATKV-skryfskole.
Yolanda is as bekroonde joernalis, skrywer, dosent en boekmens, nie net ‘n ervare hand in die media- en uitgewerswêreld nie, maar het ‘n besondere passie vir stories, skryf en boeke waarmee sy haar kundigheid in die skep van sterk inhoud inspan om aspirant skrywer te lei om hul eie skryfstyl te verfyn. Haar praktiese benadering maak die skryfproses toeganklik en inspirerend vir beginners sowel as ervare skrywers.

Daar is die oggend gesels oor tempo, vloei, ritme, trant en oorgange wat die goue elemente in enige skryfwerk vorm.
Oor sterk inleidings wat die leser van die begin moet betrek. Dialoog wat lewe gee aan ‘n storie, en die waarde van humor.

Mense lees graag van mense, en daarom is karakters ook mense met foute. Min woorde sê dikwels meer wanneer die leser gelei word om op elke sintuigvlak te beleef wat verwoord is.


“Easy reading is difficult writing.” Daarom moet jy jou teikenmark ken, en jou feite goed navors.


Tussendeur praktiese oefeninge, pittige humor, en raakvat wenke is woordkuns geslyp vir die krag van storie vertel.




