
Ons is mos nou een maal nie almal gebore met tekkies aan nie. En behoede die een wat weer na Suid-Afrikaners verwys as rond en gesond.
Maar toe daar gesê word jy kan oefen, toe is die tekkies aan, die deure wawyd oop. Word almal stappers en drawwers vir daardie 3 ure se grendel-grasie.
Opgeline ma, pa en kinders, die hele worx met die hond aan die leiband.
Van inlê as die oggendluggie nog op sy koudste is, is geen sprake nie – want oefen gaan ons oefen.
En soos die uurwyser nader aan 9 uur kom, word die strate al besiger.
Ons drink en rook nie meer nie, en die ronder word nou al gesonder.
Die Comrades kry dalk sy rekord inskrywings aanstaande jaar, en laas jaar se winterklere gaan pas.
En vir die eerste keer weet jy hoe dit regtig met jou bure gaan. Want in die oefengolf wat die strate soggens klokslag om 06:00 tref, stap jy die pad saam.
Dis nie meer ‘n vinnige waai in die verbyjaag nie. Daar’s nie meer sportoefening en kinders oplaai nie. Jy leef eenvoudiger, stadiger, sonder horlosiewysers.
Jy leen en deel tamaties, eiers en medisyne by jou bure oor die straat.
En dalk vir die eerste keer – leef jy weer – minder rond en gesond van binne weer.





