
Die situasie is steeds gespanne in die Tumahole woonbuurt waar inwoners gister, Woensdag 17 Junie, antwoorde van die Ngwathe bestuur ge-eis het oor waarom rotasie beurtkrag die afgelope twee weke toegepas word. Naas die rotasie beurtkrag blyk dit dat ander probleme op die kragnetwerk gister bygedra het tot die woede oor die kragsituasie veral in sekere woongedeeltes.
Bande is gister gebrand en ‘n optog na die Tumahole munisipale kantoor gehou waar die munisipale bestuur met die optoggangers sou praat. Dit kon egter nie gebeur nie nadat skade aan die gebou aangerig is deur woedende inwoners en die raadslede en munisipale bestuur onder polisie begeleiding uit die woonbuurt geneem is.
Daar is tans weer ‘n groep van ongeveer 200 mense in die Vuka woongedeelte bymekaar gewees wat deur die polisie gestop is, en toe terugbeweeg het om te hergroepeer. Openbare Orde Polisie is in die woonbuurt om die situasie te monitor.



