NewsNews

Dis Innibos digitaal dié naweek

Dis Innibos digitaal dié naweek

 

Innibos Digitaal skop die komende naweek af en jy is verseker van die beste sitplek in jou eie sitkamer, maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie!

 

Dié digitale fees, wat op Vrydag, 26 Junie begin stroom, bied twintig produksies wat musiek, drama, komedie en kinderteater insluit. Sommige vertonings is uit die Innibos-argief maar daar is ook splinternuwe produksies wat spesiaal vir Innibos Digitaal opgeneem is.

 

’n Eerste in die Afrikaanse toneelbedryf is die digitale debuut Leengoed, met Tobie Cronjé en Wynand von Vollenstee. Hierdie is die aangrypende verhaal waarin oënskynlike vreemdelinge vanuit twee verskillende wêrelde ontmoet: ’n aspirerende sanger wat teëspoed ondervind en ’n ongeduldige, ou vlooimarkkalant. Hulle vind onwetend antwoorde by mekaar en in die sameloop met sy verrassende ommekeer en slot, kom elke swerwer tog tuis. Leengoed is oorspronklike vermaak vir elke persoon wat al ooit nagedink het oor die lewenspad; oor dit wat ’n mens kies en wat jou pad kruis.

 

Chris Vorster lewer ook ’n uitsonderlike solo-vertoning in Die hart verklap, ʼn innoverende en komiese riller wat in 2019 reuse sukses behaal het by die Vrystaat Kunstefees en spog met vier Blinker-nominasies en twee Blinker-toekennings vir Beste Debuut Produksie en Beste Kunstenaar. Vorster is ook genomineer vir ʼn kykNET Fiësta vir Beste Spel in ʼn Solo-vertoning.

 

Vorster trek meer komiese skoene aan in die stuk Manne saam met onder andere Hannes Brümmer. ʼn Spul vriende herenig vir ʼn jagnaweek. Met geraamtes in die kas en wraak op die brein stap vyf manne die boendoes binne … slegs vier keer terug. ’n Lekkerlag-riller, as daar ooit een was!

 

Simon Bruinders bring Rainbow nation – ’n comic relief vir swaar tye na die fees, en in Die narre werklikheid oor twee narre op soek na hul ma sal jy lag én huil. Albert Maritz is die regisseur van dié stuk.

 

Voorts is daar Annale van ’n windgat met Craig Morris, ’n lag-’n-minuut komedie met ’n stewige skeut lewenswysheid. Johny Klein vertel heerlike kontreistories in Pomporrelkonsert, en Elsabé Daneel en Wilken Calitz tower gedigte en musiek op in Rasende Ryme.

 

Stroming van Innibos Digitaal begin om 18:00 op Vrydag, 26 Junie. Kaartjies is reeds te koop by Computicket, en die vertonings bly vir 72 uur beskikbaar nadat jy die eerste keer die skakel geaktiveer het. Ander goeie nuus is dat die vertonings tot Desember vanjaar in die “biblioteek” sal bly – jy kan dus lekker lank feesvier!

 

Die volledige program is op innibos.co.za en op computicket.co.za.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button