Hofstryd steeds nie verby nie: Vyf hoor later eers hul lot
Hofstryd steeds nie verby nie: Vyf hoor later eers hul lot
Vir die vyf mans van Parys wat in Mei vanjaar deur regter Corné van Zyl skuldig bevind is aan aanranding op Tumelo Simon Jubeba en Samuel Tjixa, is hul hofstryd en emosionele trauma van meer as vier jaar steeds nie verby nie. Dit nadat vonnisoplegging nog eens Dinsdag 25 Augustus in die Hoë Hof in Parys uitgestel is, en die saak nou eers weer op 14 en 15 Desember, en daarna op 11 en 12 Januarie 2021 voor die hof sal wees.
Eers dan sal Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren hul lot hoor. In haar getuienis vandeesweek voor die hof het Rikki van der Westhuizen, eggenoot van Boeta van der Westhuizen, vertel van die bykans ondenkbare emosionele trauma wat haar gesin die afgelope vier jaar beleef het sedert 6 Januarie 2016 toe haar skoonpa, Loedie van der Westhuizen Sr, op sy plaas Biesiesbult in die Weiveld-distrik die slagoffer was van ’n plaasaanval.
Tjixa en Jubeba is deur die groep mans wat gereageer het op die noodroep aangekeer, en het die staat aangevoer dat hulle sodanig aangerand is, dat hul later aan hul beserings beswyk het.
Dit was uiteindelik die getuienis van ‘n afgetrede patoloog, prof. Jan Botha, wat vir die verdediging getuig het, wat die staat se getuienis op sy kop gedraai het. Prof. Botha moes sy getuienis suiwer baseer op die nadoodse verslae, fotos en ander getuienis wat toe reeds voor die hof gehou was, en was dit uit sy getuienis duidelik dat die oorledenes kon sterf weens onvoldoende mediese hulp en die ernstige beserings wat hul moontlik kon opdoen in hul reeds beseerde toestand toe hulle oor ruwe terrein van die plaas Swartklip met ‘n polisievangwa vervoer is om die ambulans langs die pad te ontmoet wat hulle verder sou vervoer.
Hy het talle aspekte rondom die beserings uitgewys wat nie versoenbaar was met wat in die hof getuig is nie. Rikki het getuig hoe sy haar skoonpa na die plaasaanval met ’n bloeiende kopwond en bloed op sy arms, gekry het. Totaal verslae soos iemand wie se gees gebreek is. Daarna het hy dikwels gesê hy is bang dat hy weer aangeval sou word. Sy gesondheid so agteruitgegaan dat hy in 2018 oorlede is.
Voor sy dood het hy dikwels met Rikki gepraat oor sy kommer oor sy seun, Boeta, kleinseun en naamgenoot, Loedie, en ook Miela Jansen van Vuuren, eggenoot van sy kleindogter, Christa, wie toe steeds voor die hof was op klagtes van moord wat destyds teen hulle aanhangig gemaak is, na die dood van Tjixa en Jubeba Rikki het vertel van die emosionele stryd wat mediaberigte in nasionale koerante vir hulle as gesin veroorsaak het. Tot so ’n mate dat haar skoonpa selfs ’n poligraaf-toets laat doen het omdat daar beweer is dat hy sy beserings self sou opgedoen het en nie aangeval is nie.
Sy het ook getuig oor die Valke se oënskynlike magsvertoon met ’n oormaat van voertuie en wapens waarmee daar opgedaag is om Loedie Jr wat toe maar 18 was te kom arresteer, en die klag teen Miela oor onwettige ammunisie waarop hy later onskuldig bevind is. Sy het getuig oor die geweldige teleurstelling en emosionele impak van die 204 getuies wat nie net familie nie, maar ook vriende was van haar gesin. Uit haar getuienis het die hartseer van emosionele pyn en die finansiële en gesondheidsimpak van die afgelope vier jaar soos ’n fyn draad geloop in meer as wat woorde ooit kan sê.
Maandag het dr. Marelize Vergottini ook in die getuiebank ‘n kriminoloog aangehaal toe sy gesê het boere leef in konstante vrees met plaasaanvalle wat tot 700% meer in SA is as in enige ander land. Dr. Vergottini het getuig oor aspekte van haar waarnemings uit die sosio-sielkundige verslae wat sy opgestel het van Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen (jr.) en Miela Jansen van Vuuren.
Sy het spesifiek verwys na ’n plaasaanval voor 2016 net 3 kilometer van Boeta van der Westhuizen se plaas wat so ’n blywende indruk op hom gelaat het dat die gebeure op Swartklip hom die trauma van sy belewenis ’n tweede keer laat herleef het met die aanval op sy pa. Sy het dit beskryf as ’n ‘nagmerrie wat waar geword’ het toe hy sy pa bebloed aangetref het, en ook uitgewei oor hoe elkeen van die ander mans geraak is.




