Ses nuwe bek-en-klouseergevalle bring Vrystaat-totaal op 770
Meer as 1,4 miljoen beeste ireeds ingeënt met Biogenesis Bago- en Dollvet-entstowwe.
Ses nuwe klinies bevestigde gevalle van bek-en-klouseer (BKS) was teen 14 Augustus in die Vrystaat aangemeld, wat die provinsie se totale aantal bevestigde gevalle op 770 te staan bring.
Volgens die Vrystaatse Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake is die nuwe gevalle in die Kroonstad-staatsveeartsenykundige gebied (een), Bloemfontein-staatsveeartsenykundige gebied (drie) en Welkom-staatsveeartsenykundige gebied (twee) bevestig.
Van die 770 bevestigde gevalle is net 219 tans aktief en onder kwarantyn het die departement gesê.
So lyk die gevalle in munisipale gebiede
BKS-gevalle is tot dusver in 19 plaaslike munisipaliteite in die Vrystaat bevestig.
- Kroonstad – Moqhaka Munisipaliteit: 125 gevalle
- Heilbron – Ngwathe Munisipaliteit: 96 gevalle
- Sasolburg – Metsimaholo Munisipaliteit: 64 gevalle
- Frankfort – Mafube Munisipaliteit: 81 gevalle
- Bethlehem – Dihlabeng en Nketoana Munisipaliteite: 73 gevalle
- Warden – Phumelela Munisipaliteit: 45 gevalle
- Qwa-Qwa – Maluti-a-Phofung Munisipaliteit: 29 gevalle
- Welkom – Matjhabeng en Naledi Munisipaliteite: 51 gevalle
- Ladybrand – Mantsopa en Setsoto Munisipaliteite: 46 gevalle
- Smithfield – Mohokare en Mangaung Munisipaliteite: 18 gevalle
- Fauresmith – Kopanong en Letsemeng Munisipaliteite: 24 gevalle
- Bloemfontein – Mangaung Metro: 28 gevalle
- Thaba Nchu – Mangaung Metro: twee gevalle
- Bultfontein – Tswelopele en Masilonyana Munisipaliteite: 35 gevalle
- Boshof – Tokologo Munisipaliteit: 52 gevalle
Meer as 1,4 miljoen beeste ingeënt
As deel van die nasionale risikogebaseerde inentingstrategie is 1 485 340 beeste tot dusver met die Biogenesis Bago- en Dollvet-entstowwe ingeënt.
Inenting word steeds volgens die nasionale BKS-beheerstrategie uitgevoer, met prioriteit aan besmette eiendomme, naburige plase en ander hoërisikogebiede wat deur veeartsenykundige risiko-assesserings geïdentifiseer word.
Die departement sê hy ontvang steeds ’n groot aantal aansoeke vir inenting. Nie alle aansoeke kan egter tydens die aanvanklike fases van die program geakkommodeer word nie weens beperkte entstofbeskikbaarheid en die behoefte om hoërisikogebiede te prioritiseer.
Boere is egter aangemoedig om steeds aansoeke vir inenting in te dien, omdat dié inligting die departement help met toekomstige entstof- en inentingsbeplanning.
Departement waarsku oor aanmelding van vermoedelik gevalle
Die departement het kommer uitgespreek oor die voortgesette versuim deur sommige veeeienaars om vermoedelik BKS-gevalle aan te meld.
Tydige aanmelding is nie net ’n wetlike verpligting nie, maar ook noodsaaklik vir doeltreffende siektetoesig, beheer en uitroeiing.
Ingevolge Staatskoerant No. 54969, Staatskennisgewing No. 7668 van 8 Julie 2026, moet alle vermoedelike BKS-gevalle onmiddellik, op dieselfde dag waarop dit geïdentifiseer word, aangemeld word. Dit stel veeartsenykundige dienste in staat om vinnig ondersoek in te stel, kwarantyn toe te pas en toepaslike beheermaatreëls te implementeer.
Versuim om vermoedelik gevalle aan te meld, is ’n oortreding van die Animal Diseases Act, 1984 (Wet 35 van 1984) en bemoeilik die departement se vermoë om die omvang van die uitbreking akkuraat te bepaal en verdere verspreiding te beperk.
Die departement waarsku ook oor ’n afname in die nakoming van basiese biosekuriteitsmaatreëls op sommige plase en sê dit verhoog die risiko dat die siekte tussen naburige eiendomme versprei.

Vee-eienaars moet streng beheermaatreëls volg
Die departement doen ’n beroep op rolspelers om:
- enige vermoedelike BKS-gevalle dieselfde dag by die naaste staatsveeartsenykundige kantoor aan te meld;
- besmette diere onmiddellik te isoleer;
- die beweging van gesplete-hoefdiere, diereprodukte, voertuie, toerusting en moontlik besmette materiaal vanaf besmette eiendomme te voorkom;
- onnodige toegang tot vee-eiendomme te beperk en streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas;
- besoekersregisters by te hou en voertuie, toerusting, klere en skoene wat vee-eiendomme binnegaan of verlaat, skoon te maak en te ontsmet;
- te verseker dat enige beweging van gesplete-hoefdiere vanaf eiendomme onder kwarantyn slegs met skriftelike toestemming van die staatsveearts plaasvind en van die vereiste veeartsenykundige permitte vergesel word;
- akkurate rekords van vee-identifikasie, inentingsgeskiedenis en dierbewegings by te hou; en
- aan alle kwarantynkennisgewings, bewegingsbeperkings en biosekuriteitsvereistes te voldoen totdat dit amptelik deur Veterinêre Dienste opgehef word.



