News

Afgryslike wreedheid van kapbendes skok

Afgryslike wreedheid van kapbendes skok

 

Kapbendes het verlede week weer in die distrik toegeslaan toe vier Rooi Bonsmara koeie en ‘n jong bulletjie van Ben Fouché op die plaas Rietpoort langs die Parys/Fochville-pad, se hakskene met brutale wreedheid met ‘n panga afgekap is. Die koeie se boude en blaaie is ook afgesny. Die bulletjie is die volgende oggend nog lewend gekry, maar moes weens sy lyding van kant gemaak word. Van die koeie was dragtig of het kallers gehad wat nog aan hulle gedrink het.

Die voorval het Woensdagnag/ Donderdag in die vroeë oggendure gebeur. Volgens Ben beloop sy skade nagenoeg R90 000, afgesien van die onmenslike wreedheid van hierdie bendes se modus operandi waarmee hulle soms net dele van die bees afsny soos nou die geval was, of die hele bees slag en dan net die ingewande op die toneel agterlaat, of die kop, of uier wat onderstebo geplaas word. Die bendes roteer oënskynlik tussen Parys en Sasolburg, Sasolburg en die Barrage-omgewing, en Barrage en Parys. Vir Ben was hierdie voorval reeds die vyfde by sy beeste die afgelope vier jaar. Die laaste voorval was ongeveer twee jaar gelede. Hoewel daar toe arrestasies gemaak is, was die uiteinde dat die verdagtes weer vrygelaat is.

Die tragedie hiervan is dat daar die laaste drie jaar al bykans 30 beeste verloor is met hierdie slagtings, sê Sarel van der Wat van die GPF/Rooikat patrolliegroep. Hy sê hoewel dit tans relatief stil is wat veediefstal in die Buffelshoek-distrik betref, en net enkele gevalle in die Vredefort-distrik, daar groot kommer is oor wat hy beskryf as die onvermoë om hierdie wreedheid stop te sit met suksesvolle vervolging.

* Twee weke gelede is twee arrestasies in die Lindequesdrift-omgewing juis deur GPF en Rooikat patrollielede gemaak nadat ‘n verdagte voertuig opgemerk is en opvolg aksies gelei het tot die terugvind van gesteelde goedere by die ingang van ’n kleinhoewe. Die bestuurder van die voertuig is gearesteer en ‘n tweede verdagte by ’n vendusie by De Deur.  

  • Hoewel foto’s van hierdie gruweldaad in Parys Gazette se besit is, is die besluit geneem om ter wille van sensitiewe kykers nie die foto’s van onmenselike wreedheid teenoor diere te plaas nie. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button