
‘n Man op ‘n perd het Sondagnag doodluiters en ewe arrogant net voor middernag by die Sasol vulstasie naby die Van Collerstraat-robot in die geriefswinkel ingery met sy perd, die personeel gedreig en toe weggery met ‘n pakkie sigarette wat hy uit die winkel geneem het.
Boonop het hy geen masker gedra soos duidelik vereis word voor jy die winkel mag ingaan.
Die nagruiter se naam en identiteitsnommer is bekend en sal verdere aksie nou geneem word, is aan Gazette bevestig. Die polisie en sekuriteitspersoneel is ook van die voorval ingelig en is die hele voorval ook op kringtelevisie beeldmateriaal vasgevang.
Volgens die vulstasie-eienaar, mnr. Berné van den Bergh, is dit die eerste keer in 17 jaar dat so-iets gebeur.




