
Wintermaande is tradisioneel ‘n moeilike tyd vir bloedinsameling weens ‘n toename in tipiese wintersiektes soos verkoues en griep, wat ‘n reuse impak het op die insameling van bloed. Dit plaas die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) onder ontsaglike druk om genoeg, veilige en goeie kwaliteit bloed in te samel. Juis daarom het die bloeddiens vandeesweek weer ‘n ernstige beroep op skenkers gedoen om net 30 minute af te staan om bloed te skenk.
Parysenaars het gedurende April reeds gehelp om 155 eenhede bloed te kon insamel wat meer as 450 lewens kan red. Jy kan weer Dinsdag, 11 Mei vanaf 12:00 tot 18:00 by die Hervormde kerksaal in Parys, h/v Loop- en Paulsenstraat bloed skenk. Die mikpunt is om dan 100 eenhede bloed in te samel wat 300 lewens kan red. Streng maatreëls word deur die Bloeddiens gevolg om die veiligheid van skenkers te verseker.
Die minimum vereistes om ‘n bloedskenker te wees, is:
• Wees tussen die ouderdom van 16-75 jaar
• Weeg meer as 50kg
• Geniet goeie gesondheid
• Leef ‘n veilige seksuele leefstyl. Vir meer inligting, besoek gerus die bloeddiens se webblad by www.sanbs.org.za of skakel 0800 11 90 31 tolvry.




