Groot opgewondenheid vir Parys Ladies Classic
Groot opgewondenheid vir Parys Ladies Classic
Nadat die gewilde Parys Ladies Classic gholftoernooi verlede jaar uitgestel moes word as gevolg van die inperking, is die organiseerders nou ywerig besig om voor te berei vir dié toernooi wat, as alles volgens plan verloop, op 5 en 6 Oktober gehou sal word. Parys is bekend vir sy pragtige gholfbane (Parys Golf & Country Estate en Vaal de Grace) weerskante van die dorp. Dit bied dan ook die ideale gholfbestemming vir dames gholfspelers.
Die behoefte vir die toernooi is reeds jare gelede raakgesien en is besluit om ‘n damestoernooi te vestig. Die toernooi word twee-jaarliks gehou, en sal vanjaar se toernooi die vyfde aanbieding wees. Tydens die toernooi word op beide bane oor twee dae gekompeteer -in span-verband, sowel as individueel.
Die dames kom van oraloor die land, om die twee dae van gholf, gesellige saamwees, kompetisie en kuier te geniet. “Veral nou, vind ons ‘n behoefte onder die dames, aan ‘n wegbreek van die spanning waaronder almal die afgelope twee jaar deurgeloop het,” sê Elizabeth Fourie, een van die organiseerders vir die toernooi.

Die dorp leen hom uitstekend tot die tema waarop daar vir die Classic besluit is, naamlik “Bonjour Paris!” “Aangesien Parys vernoem is na Paris, in Frankryk, maak dit sin om die Toernooi so ‘n Franse geurtjie te gee. Die dames besigheidsforum, We Do Deals on Heels, werk ook nou saam met die organiseerders, en word beplan om winkels en restaurante op Dinsdagaand 5 Oktober later oop te hou vir die feestelikheid.
“Die Parys Ladies Classic bied ‘n goeie toerisme-inspuiting vir die dorp, waardeur gastehuise, die gholfbane, besighede, en restaurante kan baatvind. Parys beskik oor die verskeidenheid fasette wat van hierdie geleentheid so ‘n groot sukses maak, en ons is trots om ons dorp op hierdie manier aan ons gaste te kan bekendstel,” sê Elizabeth. Inwoners word genooi om tydens die toernooi te kom kyk en ook die straatfees op 5 Oktober by te woon.
“Almal kan doen met so ‘n lekker saamwees geleentheid, soos net Parys dit kan bied,” sê Elizabeth.




