Polisiekaptein ook aangekla ná dood van twee
’n Polisiekaptein van Parys sal Vrydag 12 Februarie saam met vier boere van die distrik, Anton Loggenberg, Johan Cilliers Sr en Jr en Boeta van der Westhuizen in die hof verskyn op twee klagte van moord ná die dood van twee vermeende plaasaanvallers, Samuel Tjixa en Seun Tangasha in Januarie vanjaar. Kapt. Henk Prinsloo is …
’n Polisiekaptein van Parys sal Vrydag 12 Februarie saam met vier boere van die distrik, Anton Loggenberg, Johan Cilliers Sr en Jr en Boeta van der Westhuizen in die hof verskyn op twee klagte van moord ná die dood van twee vermeende plaasaanvallers, Samuel Tjixa en Seun Tangasha in Januarie vanjaar.
Kapt. Henk Prinsloo is Woensdagaand inhegtenis geneem en het Donderdag vlugtig voor landdros Leshnee Pillay verskyn. Borgtog van R5 000 is toegestaan – dieselfde bedrag as wat vroeër ook aan die ander vier beskuldigdes toegestaan is.
Die arrestasie volg nadat die Valke die afgelope twee weke verskeie aksies hier uitgevoer het. Die moordwapen en beweerde selfoonvideo van die aanranding op die twee mans is egter steeds soek.
Die aanranding het gevolg ná ’n aanval op mnr. Loedie van der Westhuizen, Boeta van der Westhuizen se pa, op die plaas Biesiesbult in die Weiveld-distrik. Talle boere het op die noodroep na die aanval gereageer en is die mans op ’n naburige plaas deur die boere inhegtenis geneem. Die mans was ernstig beseer en is kort ná die aanranding in die hospitaal oorlede.
Van die ANC se provinsiale leierskap sal na verwagting aan ’n protesoptog na die hofgebou deelneem terwyl 2 000 ANC-ondersteuners verwag word. Hulle sal ’n memorandum aan die hofbestuurder en provinsiale kommissaris van polisie oorhandig. Ook die EFF het toestemming gevra om by die hof te vergader en sal ’n memorandum oorhandig. Geen ander byeenkomste is gewettig nie en die polisie sal streng optree in geval van onwettige byeenkomste. Sterk polisie teenwoordigheid was reeds Donderdag in die dorp sigbaar.
Landdros Pillay het met die boere se borgaansoek vroeër skerp kritiek gehad vir die polisie se swak ondersoekwerk en dit was duidelik dat daar nou groot druk is om ’n deurbraak te probeer maak.
’n Twee en twintigjarige man ná aan die Van der Westhuizen-familie, is sowat twee weke gelede in hegtenis geneem vir onwettige besit van ammunisie nadat ’n deursoekingslasbrief bekom is in die polisie se soektog na die moordwapen. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat en die saak is uitgestel tot April.
Prinsloo is baie geliefd in die Parys-gemeenskap en is bekend op vele terreine waar hy betrokke is, nie net as toegewyde polisiebeampte nie, maar ook as rolbalspeler. Dis juis op sportgebied waar hy uitreik na ontwikkelende spelers oor kleurgrense heen.



