
‘n Veiling van onder meer twee luukse motors wat voorheen as ampsmotors vir die Ngwathe munisipaliteit gebruik is, sal voor die einde van die munisipale finansiële jaar, 30 Junie plaasvind. Só het Ngwathe se hoof finansiële beampte, mnr. Lebusa, die afgelope week aan Gazette bevestig ná ‘n navraag oor dié motors wat al vir jare onder die stof by die munisipaliteit se brandweerstasie staan.
Lebusa het in ‘n amptelike skrywe bevestig dat die Raad tydens ‘n vergadering in Desember 2020 al besluit het om van oorbodige munisipale roerende bates wat naas dié voertuie, ook meubels, rekenaars en toerusting insluit, ontslae te raak met ‘n veiling wat op ‘n ope en deursigtige wyse gehou moet word. ‘n Afslaer moes toe aangestel word om die veiling te finaliseer en is die proses vir die aanstel van Auction24 op 6 Mei verlede jaar afgehandel, het Lebusa bevestig.
Lebusa sê in die skrywe die veiling moes egter in die lig van die beperkings van die Covid-19 pandemie uitgestel word, maar is die onderneming deur die munisipale bestuur aan die finans-komitee gegee dat die veiling wel voor 30 Junie vanjaar sal plaasvind.
Die luukse Mercedes Benz ML en Audi Q7 sal dan ook onder die afslaer se hamer kom, sowel as die brandweer se noodreaksievoertuig wat vroeër ernstig in ‘n sekondêre botsing op die N1 beskadig is.
Die Mercedes was voorheen die ampsmotor van Ngwathe se burgemeester, maar is ná ongelukskade wat swak herstel is, met ‘n nuwe ampsmotor vervang. Sedertdien staan die ou ampsmotor ongebruik en nutteloos, tesame met die luukse laatmodel Audi-motor wat vroeër deur Ngwathe se speaker gebruik is.

Ook die brandweer se noodreaksievoertuig staan reeds vir ‘n geruime tyd by die brandweerstasie nadat dit groot skade opgedoen het in ‘n sekondêre botsing op die N1.
* Verlede jaar het die DA vasgestel dat ‘n stukkende munisipale bakkie toe al byna vier jaar gestaan het om herstelwerk te voltooi omdat Ngwathe glo nie sy agterstallige rekening by die werktuigkundige vereffen het nie. Die bergingskoste alleen het toe R5 000 beloop, het die werktuigkundige,gesê.





