NewsNews

Oudburgemeester en sakeman van Parys sterf

Oudburgemeester en sakeman van Parys sterf

 

 

Jannie Havenga, oudburgemeester van Parys, sakeman en dierbare vriend, is Woensdagoggend, 23 Maart oorlede. Hy was 86 jaar oud. Jannie is in Potchefstroom gebore as die jongste van drie kinders. Ná skool het hy as ‘n motoringenieur by sy stiefbroer, Hennie Havenga, gekwalifiseer. Dit is dan ook in hierdie tydperk dat hy vir Juffrou Edith Meiring ontmoet het. Jannie en Edith se lewensreis saam het op 1 Julie 1956 begin toe sy hom die jawoord gegee het, en is hulle na hul troue na Vryheid in Natal. Twee jaar later het Jannie saam met Dan Bouskin hul eie ingenieurswerke, Oskin Engineering, in Nelspruit begin. Ná vyf jaar in Nelspruit besluit Jannie egter dat dit tyd was om sy vlerke te sprei en sy eie ding te doen. Hy begin rondkyk en het George hom baie geval, maar na oorweging het hy uiteindelik besluit om in Desember 1965 na Parys te verhuis.  

 

 

 

In Januarie 1966 begin hy Venga Engineering op die plaas Mooihoek van Dirkie Venter. Deur die jare het Venga en later Vengaland ‘n huishoudelike naam in Parys geword. Jannie se jongste seun, Henk het die besigheid by hom oorgeneem en laat vandag nog die Venga-naam voortleef. Een van die eerste mylpale wat Jannie in Parys behaal het, was om ingenieurswerke binne die dorp, en nie in die industriële gebied te vestig nie. Die destydse munisipaliteit wou dit nie goedkeur nie, en hy het versoek om voor ‘n raadsvergadering te verskyn om sy saak op meriete aan hulle te verduidelik. Die uiteinde was dat hy die ou Greyhound Busdiens perseel in Loopstraat gekoop het. Dit was ‘n landmerk vir baie jare in Parys met die ingenieurswerke, Sprite Karavane, Honda en Kawa-saki Motorfiets agentskappe.

Terwyl hy nog in Nelspruit gebly het, het Jannie sy vlieglisensie bekom, en was dit vir baie jare ‘n lekker tydverdryf vir hom en sy gesin. Hy het sy passie vir vlieg voortgesit in Parys en was ‘n stigterslid van die Parys Vliegveld. Hy het nie gerus voordat Parys ‘n teer aanloopbaan met ligte vir nagvlugte gehad het nie.

Hy het boks ook baie geniet en in die dae van Gerrie Coetzee, Kalie Knoetze, Jimmy Abbott, Brian Mitchell en baie ander, is daar menige Saterdagaand deurgevlieg na Johannesburg, en op die destydse Baragwanath lughawe geland waar ‘n getroue VW Kewer gewag het as vervoer. Jannie is tot die plaaslike Munisipale Raad verkies as wykskandidaat in die laat 60’s. In 1972 word hy tot burgemeester van Parys verkies.  

 

 

 

“Hy was bekend as ‘n man wat toegewyd was aan sy Hemelse Vader en wat Jesus onbeskaamd gedien het. Sy liefde vir sy vrou, Edith, was onvoorwaardelik en hy het altyd sy seuns ook daaraan herinner dat ‘jy elke dag vir jou vrou ‘n paar keer moet sê dat jy haar liefhet, want as jy haar soos ‘n koningin behandel, is jy outomaties haar koning’”, vertrel sy seuns. Sy geliefde sê-ding was: “Woman were made to be loved, but not to be understood!” Sy ideale en beginsels sal altyd voortleef in die harte en gedagtes van hulle wat hom liefgehad het. Ons innige medelye aan die familie.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button