NewsNews

Sy storie lees soos ’n boek waarvan driekwart van die bladsye weg is

Sy storie lees soos ’n boek waarvan driekwart van die bladsye weg is

 

 

Toeriste stroom na Suid-Afrika se Koepel om die grootste en oudste impakkrater op aarde te ervaar – veral die geologie en natuurskoon. Besoekers kom ook egter om die kultuurhistoriese skatte, die legendes, mites en karakters van die Koepel, wat jare lank aan die agterspeen moes suig, te geniet. Die spore van boerekrygers, delwers, skrywers, witblits, pienk graniet en ‘n presidensiële koets is hier te vinde.

So ook die verhaal van Vredefort se Boggelrug Boer, Andries Petrus Hendriks (1910 – 1981) – die mooi man met die weglêsnor waaroor daar opnuut bespiegel word. Die storie van Andries Petrus lees soos ‘n boek waarvan driekwart van die bladsye weg is. Waar hy grootgeword het en wie sy ouers was, blyk tot dusver ‘n raaisel. Andries en sy ouer broer het glo as jongmanne van die huis af weggeloop om hulle eie potjies elders te gaan krap. Party bronne beweer dat dit langs die kus van die destydse Suidwes-Afrika was. Ander sê weer dat dit aan die Weskus van die Noord-Kaap in die omgewing van Port Nolloth was.

Almal is dit egter eens dat hy aanvanklik op die spoorlyne vir ‘n halfkroon ‘n dag gewerk het, waarna hy glo diamante begin delf het. Die tweede spoor van Andries volg eers ‘n paar dekades later wanneer hy die plaas Perdekraal in die Vredefort-distrik bekom. Die opstal wat hy daar gebou en vir byna twee dekades stoksielalleen bewoon het, staan nou nog. So ook sy drieverdieping beton fort met skietgate op die aangrensende stuk grond waar hy in 1981 met ‘n byl vermoor is. Beide eiendomme is tans in private besit, en glad nie vir die publiek toeganklik nie. Andries was in sy middeljare met die weduwee Stanton getroud, maar die huwelik was van korte duur. Andries het glo al meer suinig, hardvogtig, skuinsbeneuk, selfs soms liefdeloos begin raak.

Binne sy fort was daar genoeg kombuisgereedskap, vragte blikkies, en ander nie-bederfbare kosse wyl hy self nie lief was vir kosmaak of skottelgoed was nie. Gerugte dat Andries diamante, goue ponde en kontant oral in sy fort versteek, wou net nie gaan lê nie, al het hy maar net ‘n gewone bruin broek, veldskoene en ‘n velthoed gedra, en met ‘n ou bruin bakkie, soms ‘n fiets, gery. Die Sotho-sprekers van die gemeenskap het hom die bynaam ‘Majaraposa’ – die man met die possak, gegee.

Sommiges het geglo dat daar diamante in sy boggel versteek was. Andries se gewapende fort was toegerus met ‘n yslike kragopwekker sowel as ‘n boorgat. Sy huishulp van etlike jare en haar mede-beskuldigdes is elk die doodstraf opgelê vir die aandeel aan sy byl-moord. Sy geskende liggaam is in die put voor sy fort gevind. Andries se fort en al sy besittings is per openbare veiling verkoop wat glo deur mense van heinde en verre bygewoon is. Die totale opbrengs, volgens die bepalings van sy testament, is aangewend vir sy graf wat met pilare en beelde van Italiaanse marmer versier is.  

Die uitsonderlike grafsteen van Andries Petrus Hendriks in die Vredefort-begraafplaas. Foto met erkenning aan Mariette Else Pieterse, Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika.

 

Die graf is in die Vredefort begraafplaas wat ongelukkig van tyd tot tyd gevandaliseer word. Die metaal-grafskrif van Andries Petrus Hendriks (03-10-1910 – 12-05-1981) ‘Gone and Forgotten’, is lankal gesteel, maar die legende leef voort. Enigeen wat meer inligting oor Andries het, veral sy jeugjare en selfs ‘n foto, kan die toergids, Christo Meyer, by 083 406 0841 kontak of ‘n e-pos aan christo@kopjeskraal.co.za stuur.

 

 

Related Articles

Back to top button