
Die R30 tussen Bothaville en Allanridge is vanoggend, Saterdag 2 April , weer vir verkeer oopgestel, en die sandbanke en borde wat aangedui het dat die pad gesluit is, verwyder. Verkeersbeamptes moet egter nou die roete 24/7 aan beide kante beman om motoriste daarop bedag te maak om spoedgrense en waarskuwingstekens op die pad te gehoorsaam. ‘n Ernstige waarskuwing is ook gerig tot motoriste om te alle tye die pad uiters versigtig te gebruik.

Dit volg nadat die R30 tussen Welkom en Allanridge verlede Dinsdag gesluit is, ná nooddienste se ernstige pleidooi by owerhede oor die skokkende padslagting waar bykans daagliks ongelukke was. Negentien mense het sedert begin Februarie tot Maandag 28 Maart, op die pad gesterf. Minstens 42 mense is ook in hierdie tyd op die pad beseer in ongelukke waar motors veral saans en in die vroeë oggendure in die water van ‘n pan weerskante van die pad beland het. Hoewel daar spoed en waarskuwingstekens weerkante van die pad was, is daar geen veiligheidsrelings by die gedeelte van die pad nie. Verskeie motoriste wat daagliks die pad gebruik, het gesê dat hulle meen die pad wel veilig is maar dat veral die verontagsaming van die waarskuwingstekens en spoed te blameer is vir die ongelukke. Die vermoede was dat mense moontlik beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die geteerde deel van die pad na die verhoogde grondgedeelte beweeg het.
Die R30 tussen Bothaville en Allanridge het vroeg Februarie oorstroom ná swaar reën toe die pan se water oor die pad gespoel en die teervlak ernstig beskadig het. ‘n Kontrakteur het toe die padvlak verhoog tot bo die watervlak, maar sedertdien het die groot aantal ongelukke ernstige kommer oor die veiligheid van die pad gebring. In die jongste voorval het ‘n Oos-Kaapse ouerpaar en hul twee dogtertjie van 2 en 4 jaar onderskeidelik ‘n waterdood op die pad gesterf toe hul motor in die vroeë oggendure die pad verlaat en onder die water verdwyn het. Toe die pad gesluit is, is ‘n voertuig ook in die sandbanke in wat motoriste moes keer om die pad te gebruik.

Toe die pad verlede Dinsdag gesluit is, was daar opnuut kommer dat die voorgestelde alternatiewe roetes net ‘n nog groter gevaar vir motoriste sou inhou omdat dit bykans onrybaar is weens groot slaggate.



