
‘n Helikoptervlieënier wat melkmonsters van Kroonstad na ‘n melkery net buite Parys sou bring, het vanoggend, Maandag 4 April, tragies gesterf toe die helikopter op die plaas Rockridge waar hy die monsters sou aflewer, neergestort het. Die ongeluk het omstreeks 08:40 gebeur, het polisiewoordvoerder, kapt. Malebo Khosana, bevestig.
Die vlieënier wat ook ‘n baie bekende boer was, is deur nooddienswerkers op die toneel dood verklaar. Hy was alleen in die helikopter.
Daar word vermoed dat hy langs die melkery op die plaas wou land, toe die helikopter die oorhoofse kraglyne getref en neergestort het. ’n Ondersoek sal deur Burgerlugvaart gedoen word om die presiese omstandighede van die tragiese ongeluk te bepaal, het kapt. Khosana gesê. Ons innige medelye aan die familie



