News

Eskom wag nog vir hersiene plan oor hoe Ngwathe sy skuld gaan betaal

Ngwathe se skuld aan die kragreus het in Julie reeds R1,54 miljard beloop.

Meer as ‘n maand nadat Parys vir vier dae in duisternis was nadat die Ngwathe munisipaliteit die kragvoorsieningsnetwerk oorlaai en skade in die Eskom-substasie veroorsaak het, het Eskom steeds nie Ngwathe se hersiene afbetaalplan vir sy skuld aan die kragreus nie.
Ngwathe het 6 Julie, ná samesprekings met Eskom, onderneem om ‘n voorgestelde betaalooreenkoms teen 8 Julie by Eskom in te dien.
Die afbetaalplan is wel ingedien, maar die plan is toe na Ngwathe terugverwys vir hersiening.
Tot nou toe is die hersiene afbetaalplan nog nie ontvang nie, het Eskom weer Dinsdag 16 Augustus bevestig.
Wanneer die plan wel ontvang word, moet dit eers deur Eskom goedgekeur word, en dan deur die Ngwathe Raad.
Ngwathe se skuld aan die kragreus het in Julie reeds R1,54 miljard beloop. Intussen het die taakspan wat spesifiek vir die Eskom-kwessie saamgestel sou word, teen Gazette se druktyd nog nie byeengekom nie. Daar is al in die tweede week van Julie tydens ‘n raadsvergadering besluit om ‘n taakspan spesifiek vir die Eskom-kwessie saam te stel.
Dit sou bestaan uit lede van die Raad se finanskomitee, die uitvoerende komitee vir infrastruktuur, en lede van die gemeenskap op uitnodiging. Die komitee sal deur die burgemeester self gelei word. Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het verlede week aangedui dat daar voorberei word vir die taakspan om byeen te kom.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button