Negende beskuldigde voor hof ná dood van 2
Die 19-jarige Wikus van der Westhuizen is Vrydag 22 April in die Parys-landdroshof borgtog van R10 000 deur landdros Gustav Prinsloo toegestaan as die negende beskuldigde op 2 klagte van moord ná die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa in Januarie vanjaar op ’n plaas in die Weiveld-distrik. Die staat het nie borg teengestaan nie. Wikus is deur sy pa, Nelis, vir wie hy ook boer, by die hof ondersteun.
Die 19-jarige Wikus van der Westhuizen is Vrydag 22 April in die Parys-landdroshof borgtog van R10 000 deur landdros Gustav Prinsloo toegestaan as die negende beskuldigde op 2 klagte van moord ná die dood van Samuel Jubeda en Simon Tjixa in Januarie vanjaar op ’n plaas in die Weiveld-distrik. Die staat het nie borg teengestaan nie.
Wikus is deur sy pa, Nelis, vir wie hy ook boer, by die hof ondersteun.
Die ander beskuldigdes in die saak is Boeta van der Westhuizen (46), Anton Loggenberg (49), kapt. Henk Prinsloo (46), Wian van der Westhuizen (20), Fanie Oosthuizen (42) en Müller van der Westhuizen (19). Die staat het intussen sy saak teen Johan Cilliers Sr en Johan Cilliers Jr teruggetrek.
Al die beskuldigdes met die uitsondering van Prinsloo is boere van die distrik.
Die dood van Jubeda en Tjixa het gevolg ná ’n plaasaanval op die 73-jarige Loedie van der Westhuizen, pa van Boeta van der Westhuizen op 6 Januarie vanjaar toe hy glo deur twee mans by sy huis aangeval is.
Nagenoeg 40 boere het op die noodroep ná die aanval gereageer waarop die oorledenes wat verdink is van die plaasaanval, op ’n naburige plaas deur boere in hegtenis geneem is. Hulle was volgens polisierekords erg aangerand en is kort daarna oorlede.
Al die beskuldigdes moet weer op 27 Mei voor die hof verskyn. Boeta van der Westhuizen sal dan ook weer op ’n ander klag van intimidasie verskyn.



