
‘n Man en drie vroue wat Maandag 16 Januarie in Parys gearresteer is op klagte van openbare geweld, het vanoggend voor die landdroshof in Parys verskyn, en bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning Maandag wanneer ‘n formele borgaansoek gehoor sal word. Toegang tot die hofgebou is baie streng beperk.
Die arrestasies het gevolg na protesoptrede uit woede en frustrasie oor die knaende watertekorte in Parys Sondag 15 Januarie in die Tumahole-woonbuurt begin het. Bande en watertenks is gebrand, asook die munisipale kantore in Tumahole waar ook ‘n satellietkantoor van Vrystaat Versorging in Aksie was.
Woedende betogers het Maandagmiddag ook die huis van die ma van die Ngwathe munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, aan die brand gesteek.
Verskeie winkels in die Tumahole-woonbuurt is sedert begin is met die protesoptrede geplunder, en is paaie Maandag versper met klippe en brandende bande.
Nog 11 arrestasies is sedert Maandag gemaak, en moet nog voor die hof verskyn.
Vanoggend, Woensdag 18 Januarie, was skole steeds gesluit ter wille van veiligheid van die kinders en personeel, en verskeie besighede was toe, insluitend ook die Parys-kliniek wat sedert Maandag al toe is.
Voorvalle waar werkers geintimideer is, of uit vrees vir intimidasie nie kon werk toe gaan nie, is gerapporteer wat groot uitdagings vir verskeie instansies en veral tehuise vir bejaardes veroorsaak het.

Die SAPD en lede van Openbare Orde Polisiëring monitor die situasie deurlopend in Parys, Tumahole en Schonkenville.
Toegangsroetes na die dorp insluitend die R59 was met die skryf van hierdie berig om 12:34 steeds oop, maar is dit raadsaam om die Parys/Koppies-pad te vermy. Let daarop dat die situasie te enige tyd kan verander.
Vanoggend het ‘n groep mense voor en oorkant die hofgebou bymekaar gekom terwyl gewag is vir die hofverrigtinge. Die situasie is gemonitor en was kalm, en het die groep rondom 12:00 begin wegbeweeg van die hofgehou na die hofverrigtinge. Sterk polisie teenwoordigheid word steeds in Parys, Tumahole en Schonkenville gesien.



