Geen nuwe Cholera-gevalle hier aangemeld nie
Die eerste Cholera-sterfte in die Vrystaat is verlede week in Vredefort aangemeld.

Die departement van gesondheid het vanoggend, Dinsdag 30 Mei, bevestig dat nog geen nuwe gevalle van Cholera in die Vrystaat aangemeld is nie.
Die aantal bevestigde Cholera gevalle vir die Vrystaat staan steeds op 8 gevalle en een sterfte.
Van die 8 gevalle was 6 in Vredefort gerapporteer, en twee gevalle in Parys. Al 8 gevalle is behandel en ontslaan, is deur die departement van gesondheid bevestig.
Die 33-jarige vrou wat oorlede is was van Vredefort. Sy is in die Parys-hospitaal opgeneem vir behandeling waar sy gesterf het.

Die departement het ook weer ‘n ernstige beroep op mense gedoen om
- water te kook
- gereeld hande te was met skoon water en seep
- skoon water te gebruik wanneer voedsel voorberei word
- groente en vrugte af te spoel met skoon water.


Beide Parys en Vredefort wat binne die Ngwathe munisipale gebied val, gaan al ‘n geruime tyd gebuk onder ernstige watervoorsieningsprobleme.
- Geen bevestiging van ‘n plasing op sosiale media waarin genoem word van ‘n geval van witseerkeel in Parys, kon gekry word nie. Nie een van die dokters, klinieke of die hospitaal het enige geval gerapporteer nie, en was die departement van gesondheid ook nie bewus van enige geval van witseerkeel in Parys nie.
- Die minister van gesondheid, dr. Joe Phahla het in April bekendgemaak dat slegs twee laboratorium bevestigde gevalle van Witseerkeel in die land aangemeld is volgens syfers van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes. Die gevalle was ‘n kind in die Wes-Kaap en ‘n volwassene in KwaZulu Natal.





