Serpe en musse aan bome en lamppale vir hulle wat nie het nie
Om te gee is soveel meer vreugde as om te ontvang - veral in hierdie koue wintermaande.

Het jy ‘n serp of mus in jou kas wat jy nie meer dra nie? Wol of gare wat jy wil weggee. Of dalk gewillige hande om te help brei of hekel aan ‘n serp of handskoene. Die nood is so groot daarbuite. So baie wat nie die voorreg van ‘n huis of warm slaapplek ken nie.
Einde Julie sal jy die bont serpe en musse sien hang. By die hangbrug, voor Anna Patat in Breëstraat, aan lamppale en in bome. Kleurvol gebreide musse, serpe en handskoene vir wie ook al hierdie winter dit nodig sal hê. Om te vat – gratis, sonder dat jy hoef te vra.
Dié mooi inisiatief is verlede jaar ook deur ‘n handjievol Parysenaars aangepak.
Loer in by Anna Patat in Breëstraat en gee daardie serpe af wat jy nie meer dra nie of dit wat jy kan brei of hekel, want om te gee is soveel meer vreugde as om te ontvang – veral in hierdie koue wintermaande.



