Parys-meisies skitter in Afrikaans op wêreldverhoog
Die World Monologue Games is die grootste monoloog kompetisie in die wêreld met meer as 8 000 deelnemers uit 120 lande wat vir die kompetisie geregistreer is.

Twee Parysenaars het behoorlik naam gemaak vir dié klein Vrystaatse dorp toe hulle met goud en brons onderskeidelik by die World Monologue Games finaal op die wêreldverhoog geskitter het – en dit in Afrikaans!
Die tienjarige Carli de Jager eindig derde (brons) in die Tigers kategorie vir deelnemers tot en met 12 jaar. Vir die prestasie ontvang sy $50 prysgeld. Hierbenewens is dié talentvolle en bekkige leerder van Parys Primêre skool en student van die Linda Theron Drama-ateljee, ook beloon met ‘n brons ‘Rock Badge’ waarvoor sy as prys ‘n monoloog ontvang wat vir haar geskryf word.
Sy ontvang ook ‘n brons ‘Break Through Performance Badge’ waarvoor sy ‘n gratis inskrywing vir die 2024 World Monologue Games ontvang.
Vivienne van der Schyff (14) het egter die beoordelaars se voete behoorlik onder hulle uitgeslaan en met ‘n eerste plek (goud) in die Junior-afdeling 13 tot 17 jaar gespog. Hiervoor ontvang sy $250 dollar prysgeld. Sy ontvang ook ‘n brons “Rock Badge’ en brons “Breakthrough Performance Badge’.
Vivienne is ‘n leerder van die Eunice High School for Girls en ook ‘n student van die Linda Theron Drama Ateljee.

Die World Monologue Games is die grootste monoloog kompetisie in die wêreld met meer as 8 000 deelnemers uit 120 lande wat vir die kompetisie geregistreer is. Van die wêreld se voorste akteurs en filmregisseurs tree op as beoordelaars van die kompetisie wat vir die eerste keer in 2020 aangebied is tydens Covid-19 inperking. Die optrede van deelnemers is deur meer as 750 000 mense op YouTube gekyk.
Carli en Vivienne was onder net 86 deelnemers in ses kategorieë wat vanjaar gevorder het tot by die Global Finals.
Kykersstemme vir die deelnemers tel ook punte naas die punte wat deur die beoordelaars toegeken word.



