Dis nou ‘n lekker uitstappie as jy ook met Jan Tuisbly se kar gery het
Nog baie kuiers in die kultuurstoor op Udolpho word vir 2024 beplan.
Jy hoef nie altyd ver en duur draaie te ry om iets lekkers in die vakansie te doen wanneer ‘n vakansiebestemming elders jou nie beskore is nie. Kyk weer ‘n slag na wat jou eie dorp en omgewing jou bied en jy sal verbaas wees om te sien hoeveel daar is om te doen.
‘n Laaste oujaarstoer is verlede week nog ingewerk op Udolpho – die FAK se Kultuurplaas net buite Parys.
Tydens die toer is Kopjeskraal, Liebenbergkoppie en die Liebenberg-grafte besoek, asook ‘n paar besienswaardighede in Parys soos die baie bekende hangbrug oor die Vaalrivier, die 1938 Groot Trek-herdenkingsmonument en Ouma se Huis museum op Udolpho.


Baie is die dag geleer en gesien en is die dag se saamwees afgesluit met ‘n heerlike pizza uit die pizza-oond in die kultuurstoor op Udolpho.

Mense van sover as Namibië, die Vaaldriehoek, asook van Vredefort en Parys het die toer meegemaak en sommer baie kuiers in die kultuurstoor word beplan vir 2024.
Dankie aan Jan-Danie en Aneke Malan vir die reëlings, toer en lekker eet.
Foto-erkenning: Germaine Smith en Gys Ströh Sr.




