Ngwathe bestuursleisels in nuwe hande
Dr Mothamaha sal in die pos waarneem totdat ‘n permanente aanstelling van ‘n geskikte kandidaat in die pos gemaak is.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het ‘n nuwe waarnemende munisipale
bestuurder. Dr. Tseko Patrick Mothamaha sal in die pos waarneem totdat ‘n permanente aanstelling van ‘n geskikte kandidaat in die pos gemaak is.
Maandag, 6 Mei was sy eerste werksdag nadat die besluit vir sy aanstelling goedgekeur is tydens ‘n dringende spesiale virtuele sitting van die
raad, en hy deur Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer Mthombeni, aan die Raad voorgestel is.
Die munisipaliteit is tans in die proses om onderhoude vir die pos te voer nadat die hele aansoekproses vir vakante sleutelposte binne die munisipale topbestuur vir die vierde keer in April herhaal is. Dit omdat die gegewe
tydsraamwerk waarbinne die aansoekproses voltooi moes word, nie met die vorige proses gehaal kon word nie.
Dr. Mothamaha was voorheen munisipale bestuurder van die Maluti-a-Phofung munisipaliteit wat die dorpe Harrismith, Kestell en Phuthaditjhaba insluit. Hy is soos met die vorige twee waarnemende munisipale bestuurders wat Ngwathe die afgelope jaar gehad het, deur die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA), gesekondeer
vir die pos.
Dit het gevolg nadat sy voorganger, mnr. T. Manele, versoek het om as Ngwathe se waarnemende munisipale bestuurder te onttrek weens sake by CoGTA wat sy aandag vereis. Vrydag, 3 Mei was mnr. Manele se laaste werksdag by Ngwathe.
Dr. Mothamaha het ‘n doktorsgraad in besigheidsadministrasie, en is nie
nuut in plaaslike regering nie, het die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se
woordvoerder, mnr Steve Naale gesê.
Hy was naas munisipale bestuurder van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit, ‘n
voormalige direkteur in die kantoor van die direkteur-generaal van die Vrystaatse Premier, voormalige direkteur van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, en landbou, waarnemende direkteur vir sport,
kuns en kultuur (albei in Maluti -a Phofung), programimplementeringsbestuurder vir Geïntegreerde Volhoubare Landelike
Ontwikkeling en Munisipale Ondersteuning vir die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (Limpopo-streekkantore), adjunkdirekteur
finansiële ondersteuning en publieke aanspreeklikheid (Munisipale Finansies) in
die Vrystaatse Departement van Plaaslike
Regering en Behuising, Distriksbestuurder:
Plaaslike Regering in die Fezile Dabidistrik, en waarnemende senior rekenpligtige beampte – inkomste-afdeling in die Manguang Metro.
Ngwathe se verklaring lees verder dat dr. Mothamaha onder meer ook ‘n
meestersgraad in besigheidsadministrasie, ‘n meestersgraad in ontwikkelingstudies, en B. Tech graad in Openbare Bestuur,
sowel as ‘n nasionale diploma in munisipale administrasie het, en ‘n sertifikaat in ekonomiese ontwikkeling.
Die sleutelposte van munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte,
direkteur gemeenskapsdienste en direkteur korporatiewe dienste by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is al vir meer as ‘n jaar vakant. Die gesloer met aanstellings veroorsaak ‘n ernstige bestuurskrisis in die munisipaliteit, want solank ‘n aanstelling vir die pos as munisipale bestuurder nie gemaak
word nie, kan die vakatures vir die drie ander senior poste ook nie gevul word nie, omdat die munisipale bestuurder ‘n leidende rol in die aanstellings speel.
Ngwathe se vorige munispale bestuurder, me. Nonhlanhla Baleni het met 24 uur kennis bedank.
Daarna is die pos van munisipale bestuurder geadverteer, maar is gesê dat geen geskikte kandidate gekry kon word nie.
Die Vrystaat Provinsie het toe inderhaas ‘n munisipale bestuurder, mnr. T. Ngese gesekondeer om waar te neem in die pos om so die munisipaliteit kans te gee om weer die pos te adverteer.
Toe sy termyn verstryk het, het die provinsie ‘n tweede keer ‘n
waarnemende munisipale bestuurder in die persoon van mnr. Manele geskondeer.



