Help Hetta reik uit na skole
Die Help Hetta-projek is in 2015 begin en is een van Solidariteit Helpende Hand se nasionale projekte.
ir baie jong meisies is menstruasie ‘n normale deel van grootword, maar vir duisende skoolgaande meisies in Suid-Afrika bring dit elke maand ‘n ekstra uitdaging. Wanneer gesinne nie sanitêre produkte kan bekostig nie, kan hierdie meisies genoodsaak wees om skool, buitemuurse aktiwiteite en selfs sosiale geleenthede mis te loop.
Die HelpHetta-projek, wat in 2015 van stapel gestuur is, is een van Solidariteit Helpende Hand se nasionale projekte wat daarop fokus om hierdie meisies met sanitêre doekies en ander
noodsaaklike higiëne-produkte te ondersteun.
Danksy die projek kon daar ook weer vanjaar ‘n verskil in die plaaslike gemeenskap gemaak word met sanitêre ware wat by Primêre Skool Parys, en Parys Christelike Skool oorhandig is.

Volgens Matty Last, voorsitter van Solidariteit Helpende se Parys-tak, glo die organisasie dat elke meisie die reg verdien om haar menstruasiesiklus met waardigheid en selfvertroue te kan hanteer – sonder dat ‘n gebrek aan sanitêre produkte haar opvoeding of daaglikse lewe moet beïnvloed.

Die eenvoudige daad om sanitêre ware beskikbaar te stel, kan daarom ‘n groot verskil maak, het Last benadruk.
“Dit gee aan meisies die geleentheid om elke skooldag by te woon, aan aktiwiteite deel te neem en hul volle potensiaal te bereik, sonder die bekommernis oor waar hul volgende sanitêre produk vandaan sal kom. Die Parys-tak is dankbaar dat hulle deur die Help Hetta-projek ‘n bydrae kan lewer tot die welstand en toekoms van jong meisies in die gemeenskap,” het Last gesê.
Besoek www.helphetta.co.za om meer oor die HelpHetta-projek te lees. Indien jy graag deel wil word van die Parys-tak se gemeenskapsbetrokkenheid, kontak Matty Last by 072 267 9758.



