Local newsNews

Derduisende vir vervoer weens sloering met bouprojek

Die bouperseel is aanvanklik in Februarie 2019 aan die vorige kontrakteur oorhandig, en moes die 36 maande kontrak teen April 2023 voltooi wees. In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beëindig.

Sloering met die bouprojek vir die vergroting en opknapping van die Parys Korrektiewe Sentrum kos belastingbetalers gemiddeld R345 000 per jaar. Dit is vir die vervoer van die 35 personeellede van korrektiewe dienste wat daagliks tussen Parys en Sasolburg vervoer moet word.

Dit afgesien van die tyd wat op die pad spandeer word, en voertuie wat hiervoor beskikbaar gestel moet word. Die projek is in Februarie aan ‘n nuwe kontrakteur oorhandig en moet teen Augustus 2025 voltooi wees.

Aanvanklik was R282 miljoen vir die projek begroot, maar dit het vir maande stilgestaan omdat die vorige kontrakteur se kontrak weens swak prestasie beëindig is.

Die nuwe generasie fasiliteit sal met voltooiing 266 beddens hê, teenoor die 84 beddens wat die ou korrektiewe sentrum gehad het, het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die Departement Korrektiewe Dienste vroeër gesê. Met die oorhandiging van die kontrak aan die nuwe kontrakteur is verwys na die groeiende aantal gevangenes landwyd en die tekort aan korrekte sentrums.

Tog het die sloering van die projek veroorsaak dat die Sasolburgse Korrektiewe Sentrum nou 153% beset is. Dit is volgens George Michalakis, DA LP vir die gekose komitee vir veiligheid en justisie na aanleiding van vrae wat oor die projek aan die departement gevra is. Michalakis sê dat die DA met ‘n oorsigbesoek vroeër vanjaar gevind het dat nie veel gevorder is deur die vorige kontrakteur, NJR Projects (later G5 Group) van die tenderpreneur Edwin Sodi nie. Hy sê van die subkontrakteurs het ook beweer dat hul nie deur die kontrakteur betaal is nie.

Vroeër is kontantvloei probleme van die vorige kontrakteur uitgewys as die hoofrede waarom konstruksiewerk nie binne die vyf jaar kontraktermyn voltooi is nie.

Die situasie is deur Covid vererger, is toe gesê.

Die bouperseel is aanvanklik in Februarie 2019 aan die vorige kontrakteur oorhandig, en moes die 36 maande kontrak teen April 2023 voltooi wees. In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beëindig. Luidens ‘n verslag was die projek net 55% voltooi met die kontraktermyn wat al byna verstryk het. Van die toegekende kontrakkoste is R130 879 446,811 toe reeds spandeer. Michalakis sê die nuwe kontrakteur toon wel vordering met die projek.

Beamptes van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur wat in Februarie die oorhandigingseremonie aan die nuwe kontrakteur bygewoon het, saam met verteenwoordigers van die Development Bank of Southern Africa, het ook hul vertroue uitgespreek in die vermoë en kundigheid van die nuwe kontrakteur.

Die bouprojek vir die vergroting en opknapping van die Parys Korrrektiewe Sentrum is vroeër vanjaar aan ‘n nuwe kontrakteur oorhandig.

Die nuwe generasie fasiliteit sal ook voorsiening maak vir ‘n mediese fasiliteit, onderrig- en opleidingsfasiliteite, ‘n sokkerveld en gesofistikeerde sekuriteitselsel met ‘n sentrale beheerkamer, is vroeër vanjaar gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button