Met plakkate of selfs met busse – partye, kandidate woeker hard vir stemme
Daar bly nou minder as twee weke oor voordat Suid-Afrikaners hul kruisies sal trek

Met minder as twee weke oor voor stemdag, 29 Mei, wanneer Suid-Afrikaners na die stembus sal gaan vir die land se provinsiale en nasionale verkiesing, is politieke partye en onafhanklike kandidate kliphard aan die werk om stemme te werf.

Dié bus met ondersteuners van Louis Liebenberg wat as onafhanklike kandidaat vir die verkiesing in die Vrystaat en Gauteng staan, is vroeg-vroeg Donderdagoggend 16 Mei in Parys se strate gesien, tussendeur die stroom van motors wat sedert Dinsdag deur die dorp se hoofstraat beweeg op pad na die Nampo Oesdagplaas buite Bothaville. Vanjaar se Nampo Oesdag eindig môre, Vrydag 17 Mei.
Vir baie sakelui van Parys was daar beslis rede om te glimlag dié week met die besige Nampo-verkeer wat baie besoekers na die dorp gebring het en het Parys en sy mense besoekers met daardie egte plattelandse hartlikheid ontvang wat so eie is aan die dorp.



