Local newsNews

Wildemakoue ‘n algemene gesig in die Vrystaat

Daar is na raming sowat 50 000 tot 100 000 in die streek.

Wildemakoue is algemene standvoëls in die meeste dele van sub-Sahara Afrika waar daar vleilande, panne, damme en riviere is. Daar is na raming sowat 50 000 tot 100 000 in die streek. Daar is ook ‘n groot getal in die Vrystaat.

Hulle is redelik nomadies en trek na waar daar water en kos is. Volgens data van jong geringde voëls wat weer gevang is, kan wildemakoue 7 tot 9 jaar oud word. Hulle is algemene somerbesoekers maar sommiges bly die hele winter hier.Wildemakoue is dan ook die grootste watervoëls in die streek.

Die grootte van voëls word gewoonlik aangetoon deur hul te vergelyk met ander meer bekende voëls. So byvoorbeeld is die rooikopwewer effens kleiner as ‘n mossie, en die swartkopwielewaal kleiner as ‘n tortelduif.

Die knobbeleend, die kolgans en die kopereend is so groot soos dievisarend, terwyl die wildemakou, witborsduiker en die slanghalsvoël groter is as die visarend.

Die wildemakou mannetjie is sowat 98 cm hoog en weeg ongeveer 5.1 kg, terwyl die wyfie 85 cm hoog is en sowat 3.5 kg weeg.

Die kolgansmannetjie is 60-75 cm hoog en weeg ongeveer 2.35 kg, terwyl die visarend 63-73 cm hoog is. Die mannetjie weeg sowet 2 kg, en die wyfie sowat 3 kg.

Die wildemakou se grootte en sy glansende swart vere is kenmerkend. Hy is maklik sigbaar tussen ander voëls by damme. Die hoeveelheid wit op sy onderkant en gesig verskil tussen individue. Die mannetjies het ‘n groter rooi kaal area op die gesig as die wyfies.

Die mak makou met sy rooi gesig is ‘n redelik bekende voël. Hy kan in vlug met die heelwat kleiner knobbeleend verwar word, maar die wit op die bo- en ondervlerk is opvallend by die wildemakou.

 

Voeding:
Hulle wei graag in oorstroomde gebiede, en hul dieet bestaan hoofsaaklik uit waterplante, grasse en klein ongewerweldes soos kleiner vissies en ander watergoggas. Hulle sal ook soms in saailande wei waar hul sade vreet.

Die wildemakou (www.inaturalist.org)

Interessant:
Tydens broeityd hou die wildemakoue in pare, maar daarna vorm hulle groot swerms. Ons het onlangs ‘n groep van ongeveer 40 by ‘n dam in die omgewing gesien. Gedurende die winter verveer wildemakoue en verloor ook hul groot vliegvere. Hulle kan dan vir ongeveer 7 weke nie vlieg nie.

Die hergroei van die vere neem 37 – 46 dae, en dan nog 5 dae vir die verharding van die nuwe vere. In dié tyd verloor hul tot 20% van hul liggaamsmassa.

Hul bly op diep damme waar hul veilig is.

‘n Groep wildemakoue kom land. Foto: Chris Noome

Bronne: Die Voëlgids van Suider Afrika – Oberprieler en Cillié en Roberts Birds of Southern Africa.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button