Local newsNews

SAWV staan reg met ontbyt vir Ops Kolgans

Dertien Nasionale Diensplig (NDP) kentekens sal dan aan kwalifiserende oudsoldate oorhandig word.

As die woorde “Ops Kolgans” jou aan ‘n weermag operasie laat dink, is jy in die kol.

Op 1 Junie gaan die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se Eenheid Koepel in Parys met sy maandelikse ontbyt (Ops Kolgans) vanaf 08:00 by die APK Kerksaal in Kortstraat, uithang. Dertien Nasionale Diensplig (NDP) kentekens sal dan aan kwalifiserende oudsoldate oorhandig word.

Die ontbytgeleentheid is oop vir die publiek teen R50 per persoon, maar is ook die geleentheid waar oudsoldate, Staandemag- en Burgermaglede, kommandolede, hulpdiens, nasionale dienspligtiges, lede van die Leer, Lugmag, Vloot en Geneeskundige dienste meer te hore kan kom van die voordele wat die SAWV vir sy lede bied.

Die plaaslike eenheid, Eenheid Koepel, is twee jaar gelede gestig en het tans dertig lede. Volgens die eenheid se mediaverteenwoordiger, Jan Venter, is die SAWV se doelstellings op vier pilare gebou – ondersteuning, erkenning, herdenking en gemeenskapsprojekte.

Die bestuurslede van die SAWV se Eenheid Koepel is van links: Jan Venter (mediaverteenwoordiger), Hennie Stander (eenheidsvoorsitter) en kapelaan Johnny Burger.

Met die SAWV se struktuur word ‘n nasionale ondersteuningsnetwerk gestig waarin al hierdie projekte bedryf word. Die groot fokus is om almal te ondersteun en die wêreld vir alle lede ‘n beter plek te maak. Een van ons slagspreuke “Veterans Creating the Future” lê die klem op hierdie visie. Die organisasie is in 2009 deur die voormalige hoof van die SA Weermag gestig.

Die SAWV fasiliteer ook sy lede met die proses om te registreer op die Departement van Militêre Veterane se databasis, sodat hulle daarna kan aansoek doen vir die voordele soos voorsien deur die Militêre Veterane Wet 2011 (Wet no 18 van 2011).

Lede betaal ‘n R200 lidmaatskapfooi per jaar. Behalwe vir lede wat in die Weermag gedien het, kan enige lid van die publiek ook aansluit. Die vrouens, kinders en enige persoon wat hul waardes en standaarde ondersteun is dus welkom.

Venter sê erkenning op verskeie maniere word aan oudsoldate gegee. Die NDP kentekens wat tydens OPS Kolgans gegee gaan word is vir almal wat diensplig gedoen het. Venter en die eenheid se voorsitter, Hennie Stander verduidelik dat met gemeenskapsprojekte, die SAWV lede help om byvoorbeeld parke en begraafplase skoon te maak, hulp verleen met buurtwagte, en selfs skole ter bewusmaking besoek.

Die organisasie is A-polities en werk nou saam met kerke en welsynsorganisasies om ‘n verkil in mense se lewens te maak.

Mense wat die ontbyt wil bywoon moet bywoning teen 29 Mei bevestig deur Jan Venter te skakel, te SMS of te WhatsApp by 060 889 7754, of met die eenheidsvoorsitter, Hennie Stander by 078 207 0593, of die kapelaan, Johnny Burger by 071 286 9448 kontak te maak. ‘n E-pos kan ook gestuur word na janandriaanventer27@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button