‘Baie mense het my in my lewe gehelp, en dit is waarom ek doen wat ek doen’
3 500 Kilo's op 'n trekker want elke kind verdien 'n kans
Op 11 Augustus sal dr André Hattingh, ‘n afgetrede neurochirurg, in Nelspruit aankom nadat hy 3 500km deur ses provinsies op ‘n Mahindra-trekker met ‘n sleepwa gery het as deel van Pediatric Care Africa se “On-Trac–Tor” veldtog. Dié wêreldrekord trekkerrit poging het op 21 Julie in Nelspruit begin sonder ‘n ondersteuningsvoertuig, om soos in die verlede aan die wêreldrekord vereistes te voldoen. Slaag hy sal die rekord by RecordSetters in die VSA ingedien word.
Hattingh het Vrydag in Parys aangekom waar hy oorgeslaap het by Jackalberry Guest Farm. Saterdagoggend het hy die pad gevat na Welkom, en is hy vandeesweek deur Bloemfontein, Trompsburg, Venterstad en Cradock. Môre aand slaap hy oor in Dordrecht.

Hoekom die lang rit? Om internasionale aandag te vestig op die hoë aantal grusame plaasmoorde wat jaarliks in Suid-Afrika gesien word, om fondse in te samel vir behoeftige kinders wat groter en meer ingewikkelde operasies benodig as wat Pediatric Care Africa met ander fondsinsamelings kan dek, en om bewustheid te skep oor die skokkende vlakke van geweld wat steeds kinders se lewens regoor Suid-Afrika vernietig. Volgens UNICEF Afrika is 285 kinders vermoor, en 2 707 kinders tussen Oktober en Desember 2023 onderwerp aan gevalle van poging tot moord en of aanranding.
Sedert Hattingh Pediatric Care Africa in 2017 gestig het is gratis mediese sorg aan 7 849 persone verskaf tydens mediese uitreike na sorgsentrums en in informele nedersettings. Altesaam 1 824 kinders het ‘n privaat mediese praktisyn of spesialis deur Pediatric Care Africa se toedoen gesien. Gratis operasies kon vir 148 kinders gedoen word, en 152 tande is getrek deur vrywillige tandartse wat saamgegaan het op uitreikaksies.
Tot dusver is daar ook 511 000kg se kospakkies uitgedeel, 7 243 blikke baba formule en 9 098 pakkies baba pap afgelewer waar nood was. Selfs 103 000 dosisse Cholera medikasie is versprei. Daar is gehelp by vele rampe, onder meer met die Hertzogville brande en Limpopo vloede. “Ons help waar ons kan,” sê Hattingh.
Kinders het liefde en net ‘n kans in die lewe nodig, gesels hy verder. “Elke kind verdien ‘n kans om sy lewe te kan leef.” Hyself het vaderloos grootgeword, en dis danksy ‘n onderwyser, mnr Era van Zyl van Koster, wat my op die regte pad gehou het, dat ek is wat ek vandag is, sê hy. “Baie mense het my in my lewe gehelp, en dit is waarom ek doen wat ek doen.”
Die geval wat hom die meeste geraak het was ‘n tweejarige dogtertjie wie se hande gebrand het vir wie Pediatric Care Africa onmiddellike hulp kon verleen.
Naas mense en veral kinders wat oor die afgelope jare gehelp is kon ‘n pediatriese chirurgiese saal en brandeenheid by die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit danksy die organisasie se toedoen in die afgelope twee jaar, geopen word.
Dit wat Pediatric Care Africa vir mense doen raak harte en verander lewens, maar dit is die ontsettende dankbaarheid wat jou opval. So het ‘n vrou meer as ‘n dag geloop om vir Hattingh ‘n hoender te bring net om dankie te sê vir wat vir haar gedoen is.
Hattingh het vir bykans 28 jaar in die buiteland gepraktiseer en vertel dat hy pas gekwalifiseer was as dokter toe hy gereageer het op ‘n oproep om hulp van die Rooikruis vir die mense in Ruanda. Dit was die nood van kinders wat hy daar gesien het wat hom die belofte aan homself laat maak het dat hy eendag homself daaraan sal toewy om kinders in nood te help – en dit is presies wat Pediatric Care Africa doen.
Hattingh hoop om vanjaar met die trekkerrit R500 000 in te samel, wat sal help met die koste van twee groot ortopediese operasies wat vir twee kinders van drie en nege jaar onderskeidelik gedoen word.
Hoe kan jy betrokke raak:
•Jy kan dr André Hattingh per kilometer borg vir die afstand wat hy ry met die trekker.
•Maak ‘n eenmalige of ‘n maandelikse skenking om Pediatric Care Africa by the staan om ‘n weerlose kind te help.
•Skenk diesel vir die trekkerrit.
•Word ‘n vrywilliger by Pediatric Care Africa. So, byvoorbeeld kan ‘n algemene praktisyn in enige dorp in Suid-Afrika help om net twee behoeftige kinders gratis per jaar namens Pediatric Care Africa te sien, wat deur die organisasie na die algemene praktisyn verwys word wat mediese hulp en/of ‘n diagnose verwysing benodig vir verdere bystand. Tans is daar geen dokters in Parys of Sasolburg wat by die projek betrokke is nie. Vir meer inligting besoek www.pediatriccareafrica.org of kontak hulle by on-trac-tor@pediatriccareafrica.org of skakel 076 229 5663.



