Local newsNews

Nersa weer in die bek geruk oor kragtariewe

Kostestudies is van kritieke belang omdat dit 'n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer, en netwerke instand te hou.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se planne om onregmatige en ongeldige munisipale kragverhogings deur te druk, het Maandag weer ‘bloedneus’ in die hof gekry toe NERSA se aansoek om verlof tot appél van die hand gewys is. Volgens die burgerregte-organisasie, AfriForum, is dit ‘n reuse oorwinning in die belang van miljoene kragverbruikers.

Die hooggeregshof het in Junie vanjaar in AfriForum se guns beslis en bevestig dat NERSA se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig en ongeldig is.

Die uitspraak moet nou geïmplementeer word wat beteken munisipaliteite wat nie die vereiste kostestudie ingehandig het saam met hul aansoek om kragtariefverhogings nie, sal die kragtariewe wat vir die 2023/24 finansiële jaar goedgekeur was, moet hef.

Aansoeke om kragtariefverhogings vir 2024/25 sal volgens die uitspraak, heroorweeg word mits die betrokke munisipaliteite die nodige kostestudies binne 60 dae indien.

Die tameletjie kom egter by munisipale kragtariefverhogings wat op 1 Julie vanjaar landwyd by 178 gelisensieerde elektrisiteitsverspreiders geïmplementeer is, ten spyte daarvan dat net 66 verspreiders kostestudies gedoen het.
Dit beteken dat minstens 112 munisipaliteite reeds langer as ‘n maand onregmatige kragtariewe hef.

Die vraag is nou hoe die oorverhaling aan verbruikers terugbetaal sal word.

AfriForum het ‘n dringende skrywe hieroor aan die energiereguleerder gerig, en eis ‘n plan van aksie.

Die organisasie sal ook ‘n volledige lys van munisipaliteite wat nog nie kostestudies ingedien het nie aanvra, sodat die implementering van die hofbevel gemonitor kan word, is gesê.

AfriForum sê ook dat die fout vir munisipale rekeninghouers makliker reggestel kan word, as vir verbruikers met voorafbetaalde krag.

AfriForum het benadruk die beslissing sal ‘n wesenlike impak op munisipaliteite se begrotings hê, maar dat die lyn nou in belang van verbruikers getrek is.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslike regeringsake sê kostestudies is van kritieke belang omdat dit ‘n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer, en netwerke instand te hou. Die kostestudies word spesifiek deur die wet voorgeskryf as ‘n vereiste vir munisipaliteite se aansoeke vir tariefverhogings.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button