Seuns verloor al hul besittings in koshuisbrand
Die vleuel waar die laerskoolseuns in die koshuis gehuisves was, is heeltemal in die brand vernietig

Dertig seuns tussen die ouderdom van 7 en 14 jaar het net die klere wat hul gedra het oor nadat hulle vanoggend al hul besittings verloor het in ‘n verwoestende brand by die seunskoshuis van die Gekombineerde Skool Sarel Cilliers in Koppies. Die brand het uitgebreek met die aanvang van die skooldag, en moet forensiese kundiges nog die oorsaak van die brand bepaal.
Die vleuel waar die laerskoolseuns in die koshuis gehuisves was, is heeltemal in die brand vernietig

Benewens die kinders, het twee personeellede ook al hul besittings in die brand verloor.
Hoewel daar skenkings vir kussings en komberse van die departement verwag word, is die grootste nood vir klere, toiletbenodigdhede en handdoeke vir die seuns, asook mansklere in ‘n nr 28 en 36 grootte, en nr. 7 skoene vir die twee personeellede.
Mense wat kan help met skenkings wat benodig word, kan dit by die skoolkantoor afgee, of die koshuismatrone, Marinda skakel by 083 403 8232.
Boere, buurskole geloof vir hulp met brand:
Koppies Landelike Veiligheid en talle boere, ook van die Greenlands Boerevereniging, lede van die gemeenskap, ITU Emergency Assist en die polisie het hulle vanoggend na die Sarel Cilliers Gekombineerde skool in Koppies gehaas toe die eerste oproepe om hulp om 07:30 ontvang is. Selfs buurskole het vinnig gehelp met nog brandblussers.
Omdat die skooldag reeds begin het, was nie een van die 66 kinders wat in die koshuis bly, op die perseel toe dit begin brand het nie, en is niemand beseer nie.



Die vlamme het egter vinnig versprei deur die een vleuel wat heeltemal verwoes is, sê Duan Jonker van Koppies Landelike Veiligheid. Die tweede vleuel met die kombuis en kamers van die hoërskoolseuns is nie in die brand verwoes nie, danksy ‘n vuurmuur tussen die vleuels.
Die vlamme in die plafon het veral die brandbestryders se taak erg bemoeillik, sê Duan.




Die dogters bly in ‘n aparte koshuis en is nou na die boonste vloer geskuif, sodat die koshuisseuns op die onderste vloer tydelik gehuisves kan word.
Die Sarel Cilliers skool is vanjaar 112 jaar oud en het 692 graad R tot graad 12 leerders.
Die destydse seunskoshuis is in 1928 gebou en bestaan nie meer nie, vertel ‘n oudleerder van die skool. Die seunskoshuis wat deur die brand in puin gelê is, was vroeër jare as dogterskoshuis gebruik, onthou hy.
In die laat sestigerjare is ‘n nuwe koshuisgebou gebou wat die huidige dogterskoshuis is.



