Parys se drinkwaterramp by Departement Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes aangemeld
“Hierdie waterkrisis in Parys is ’n sprekende voorbeeld van ’n munisipaliteit wat glad nie oor die welstand van hulle inwoners besorg is nie," het AfriForum vandag in 'n verklaring gesê.

AfriForum se Parys-tak het vandag, Vrydag 25 November, die onaanvaarbare toestand van die dorp se drinkwater by Departement Gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) aangemeld. Die tak vra nou dat hierdie departemente dringend sal ingryp.
Die Burgerregte organisasie het sedert September die munisipaliteit herhaaldelik aangemaan oor die drinkwater na onafhanklike laboratoriumtoetse op drinkwatermonsters wat in die dorp geneem is en waar E. Coli in die drinkwater gevind is. Die organisasie het vandag in ‘n verklaring gesê die munisipaliteit begryp duidelik ook nie die erns van die situasie nie, want daar word nie daadwerklike pogings aangewend om die toestand om te draai nie.
“Benewens die feit dat die water ongeskik vir menslike gebruik is, is daar ook dele van Parys waar die mense vyf jaar laas water in hulle krane gehad het. Die watersuiweringswerke is glad nie op standaard nie, ten spyte van die ooreenkoms wat met AfriForum onderteken is waarin die munisipaliteit ’n deeglike evaluering van beide die watersuiwerings- asook die rioolwerke gegee is met stappe wat hulle moet neem om dit te verbeter,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder: Mooirivier.

Die skokkende agteruitgang van Parys se waterwerke op foto’s wat aangeheg is by ‘n verklaring wat deur AfriForum uitgereik is.


“Hierdie waterkrisis in Parys is ’n sprekende voorbeeld van ’n munisipaliteit wat glad nie oor die welstand van hulle inwoners besorg is nie. Daar is al soveel hulp aan die Ngwathe-munisipaliteit aangebied, maar hulle slaan eenvoudig nie ag daarop nie. Dit is duidelik dat die munisipaliteit nie bevoeg of bereid is om hierdie probleem op te los nie,” sê Pretorius.



