Slag van Majuba met skyngeveg herdenk
Geskiedenis lewendig voorgestel - jy kan dit nie misloop nie

Die Slag van Majuba wat waarskynlik die bekendste veldslag van die Eerste Vryheidsoorlog was, word hierdie Saterdag, 18 Februarie by die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys herdenk met ‘n skyngeveg wat die eerste keer ooit hier uitgevoer sal word.
Parysenaars en besoekers word genooi om saam te kom gesels en meer te leer oor dié geskiedkundige veldslag wat 27 Februarie 1881 – honderd-twee-en-veertig jaar gelede – by Majubaberg naby Volksrust in KwaZulu-Natal plaasgevind het.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings reël die geleentheid. Pak dus ‘n piekniekmandjie of braairooster en ‘n vleisie en kom geniet die dag saam met mede liefhebbers van geskiedenis by Udolpho. Bring gerus die kleingoed saam en kyk na ‘n skyngeveg.
Wat is ‘n skyngeveg?
‘n Skyngeveg is ‘n voorstelling van ‘n veldslag of ‘n geveg wat in die geskiedenis plaasgevind ht. ‘n Nuwe weergawe van ‘n ou gebeurtenis.
Die vooropgestelde ‘aanval’ word gewoonlik baie dramaties voorgestel met streng voorwaardes en reëls wat gevolg moet word om die geleentheid so veilig moontlik vir deelnemers en toeskouers te maak. Gereelde skyngevegte word jaarlik byvoorbeeld by Majuba en Val se Whiskey trein-insident aangebied.
Die slag van Majuba was die laaste van vier militêre botsings tussen Groot-Brittanje en die Boere van Transvaal gedurende dié oorlog. Tydens dié geskiedkundige veldslag het bykans ‘n honderd Britte onder bevel van genl.-maj. George Pomeroy Colley hul lewens verloor en talle is gevangene geneem. Aan die Boere se kant het slegs twee gesneuwel en ‘n paar ander is gewond. (Nicolaas Smit, Stephanus Roos, Danie Malan en Joachim Ferreira was die bevelvoerders vir die Boere tydens die veldslag). Die klinkende oorwinning wat die Boere behaal het (en vernederende nederlaag vir die Britte) het die Britte gedwing om Transvaal weer sy vryheid te gee nadat dit 12 April 1877 geannekseer is weens ‘n verbreking van die Sandrivierkonvensie van 1852.

Die foto’s gee ‘n kykie na wat jy Saterdag kan verwag en is geneem tydens die naweek se kleedrepetisie van die skyngeveg op Udolpho. Foto’s met erkenning aan Chilli PicNic.





So gaan dit Saterdag werk:
- Mense kan vanaf 08:00 deur die hekke by Udolpho beweeg. Die verrigtinge begin om 09:00. Hierdie is ‘n uitsonderlike geleentheid vir mense wat geïnteresseerd is in geskiedenis om te kom kyk, te leer en te ervaar. Lewendige geskiedenis.
- Toegang kos slegs R50 per volwassene en R25 vir pensioenarisse. Kinders o.12 jaar woon die geleentheid gratis by. Toegangsgelde is by die hekbetaalbaar.
- Bring ‘n kontantgeldjie saam. Kaartfasiliteite is nie oral by die stalletjies wat die dag by Udopho sal wees beskikbaar nie.
- Onthou jou kampstoel, hoed en sambreel.
- Moenie jou verkyker en kamera vergeet nie.
- Jy kan ‘n piekniekmandjie saambring, daar sal vleispakkies beskikbaar wees, of jy kan die koffie- en kosstalletjies ondersteun.
- Daar sal ook ‘n fotostalletjie wees en ‘n prys wat gewen kan word vir die besoeker wat die mees gepaste vir die dag aangetrek is. Dankie aan Chilli PicNic vir die borg van die ‘fotoshoot’.
- Wat kan jy die dag by Udolpho verwag?
* Geskiedenisvoorstelling
* Skyngeveg
* Kanondemonstrasie
* Skiet van voorlaaier
* Verfbalskiet
* Kettieskiet
Skakel Kobie Ströh vir meer inligting by 083 755 4444 of Jan-Danie Malan by 082 965 7002.


.



