Local news

Hartshuis ook vir Parys: Mense se nood by die dag al meer

Die afgelope twee maande was rof. Daaroor draai Zuanne van der Merwe nie doekies om nie.

Elke keer wanneer sy by iemand op straat moes verbyry, en wou stop om nog iemand in te neem by die Hartshuis, het sy geweet – plek en geld is daar nie. Sy kon nie, maar wanneer hulle dan later by haar kom aanklop, of voor haar deur afgelaai word, het sy ‘n ooreenkoms met die Here gemaak.
En Hy het voorsien, sê sy. Kerke het hande gevat, die DMR Motorfietsklub van Potchefstroom help. Elke dan en wan kom laai iemand iets af vir die Hartshuis se mense. Stukkies genade. Genade en mense se harte wat die Hartshuis se deure oophou.
Die nood is groot oral, vertel Zuanne. “Elke dag is dit meer.” Vandat sy in Co- vid-grendeltyd begin soek het na ‘n heenkome vir die 12 mense wat oor haar pad gestuur is, het die getalle bly groei, en bars die Hartshuis wat sy hier in Vredefort begin het uit sy nate.
In die maande wat verby is, is uitgebrei. ‘n Versorgingsentrum vir van die Hartshuis se inwoners begin in ‘n huis wat goedgunstiglik vir hierdie sorgafhanklikes deur Vrystaat Versorging in Aksie beskikbaar gestel is – regoor die kliniek in Vredefort.
Toe het Kawoekieland gevolg as dagsorg- en leersentrum vir kinders sonder heenkome, of wie se ouers finansieel nie meer kan voorsien nie. Hier gaan hul skool met ‘n onderwyser wat hul help op ‘n E-kurrikulum, en ‘n huismoeder wat hierdie kinders tussen die ouderdomme van 4 en 15 jaar versorg sodat hulle ‘n bed en drie warm maaltye elke dag kan hê.
En toe kom Parys oor haar pad. Na die aanval verlede jaar op die 89-jarige mnr. Daniël Labuschagne, is hy na sy seun toe, en wou hy die meubels van sy huis skenk aan die Hartshuis.
Maar weer het die plan anders geloop vir Zuanne. Pleks van dat die eiendom leeg staan en verwaarloos en gevandaliseer word, het sy die geleentheid gekry om die huis in Steynstraat te huur. Nog mense wat gehelp kon word om hier ‘n tuiste te vind. Mense met geen ander heenkome nie, wat hier versorg word deur die Hartshuis se versorgers.
Die afgelope maande het haar geloof en karakter getoets, vertel Zuanne. Die uitdagings baie. Soos met die krag by die Parys Hartshuis. In die tyd wat die huis leeg-gestaan het, het diewe kragkabels gesteel. Vergeefs is verskeie kere by die munisipa- liteit gepleit om te herstel. Nou moet daar ander planne gemaak word vir krag.
Ook die huis se krane is droog soos in baie ander dele van Parys. Nie ‘n druppel water nie. Daar moet dag na dag water aangery word vir die inwoners van die huis.
“Ek loop soos Petrus op water elke oggend – in geloof,” sê Zuanne as sy vertel dat die antwoorde op gebede meer is as die uitdagings op haar pad om saam met 25 vrywillige versorgers na hierdie 80 mense te kan omsien.
Hiervan getuig die netjiese Nano (dwerg) huisies op die Hartshuis-perseel in De Wetstraat, Vredefort, wat vir baie weer menswaardigheid en ‘n plekkie in die son gegee het sedert Zuanne haar hart hier in die Vrystaat kom oopmaak het vir die nood van ander. Sy self het alles op 50-jarige ouderdom verloor, en weet wat dit is om niks te hê nie.

Die foto is by die Vredefort Hartshuis geneem. 

Die Nano-huisies by Vredefort se Hartshuis.

Die pad wat sy met hulle in nood loop het in die Covid-19 pandemie begin toe die kleuterskool waar sy betrokke was in Pretoria, tydens grendeltyd moes sluit, en maatskaplike werkers gevra het of hawelo- ses tydelik daar gehuisves kon word. Toe die skool uiteindelik kon oopmaak, was daar vir hierdie haweloses geen heenkome nie.
In Maart 2021 het sy haar ma in Vredefort besoek, en het sy besef dat sy hier ‘n tuiste kon skep vir hierdie mense omdat eiendoms- pryse in die dorp nog bekostigbaar was.
Die Hartshuis het elkeen van ons se ondersteuning nodig.
Moenie weggooi nie. Enige skenkings is welkom– of dit iets uit jou groentetuin is, ou lakens of handdoeke, veral ook saniteermiddel en handskoene, volwasse doeke of sommer net ‘n kuiertjie – want soms is tyd meer werd as geld of goed.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button