Leer by bekroonde skrywer en joernalis Carla van der Spuy
As jy hou van stories en stories vertel, skuil daar dalk 'n skrywer in jou! Gee jouself die kans om dit te ontdek.


Die skrywer en joernalis, Carla van der Spuy, is eersdaags in Parys wanneer sy die aanbieder sal wees van die ATKV Vredefort Koepel se Herfs Skryfwerkswinkel wat 22 April in Parys gehou word.
As jy al daaraan gedink het dat jy ‘n boek kan skryf, maak nie saak watter genre nie, dan is hierdie jou kans. Kom leer by Carla. Skryf in en begin jou eie skryf-avontuur! Dit kan jy doen by Gentle Breeze Retreat in Grewarlaan 16 saam met ander voornemende skrywers.
Carla is al byna 50 jaar ‘n joernalis en skrywer. Sy vryskut veral vir Beeld, Vrouekeur en Rooi Rose. Sy was ook jare lank Noordwes korrespondent vir Jacaranda FM.
Carla het al verskeie skryfskole aangebied saam met die ATKV, veral in Centurion, die Kalahari en Namibiƫ. Tydens die pandemie het sy aanlyn-skryfskole aangebied.
Sy het al twee keer die ‘Best Real Life Story toekenning by die Caxton Magazine Excellence Awards en ses keer ‘n merietetoekenning ontvang.
Daar het agt nie-fiksie boeke uit haar pen verskyn wat hoofsaaklik deur LAPA en NB Uitgewers uitgegee is. Twee hiervan was ook topverkopers. Hierbenewens is Carla ‘n ervare beoordelaar van skryfkuns.
As jy net ‘n ywerige boekwurm is en nie noodwendig self wil skryf nie, kan jy die boekbekendstelling van Carla se nuutste pennevrug, Gangster, die middag van die 22ste bywoon. Vir navrae oor die skryf- werkswinkel en boekbekendstellling, kontak Corlia Kruger by 082 732 0257 of corliwent@gmail.com.




