Soveel gaan jy nou vir munisipale dienste betaal
Ontwerpbegroting aanvaar ten spyte van opposisie se kritiek

Ngwathe se konsepbegroting vir 2023/24 is Vrydag, 31 Maart tydens ‘n ‘dringende spesiale raadsvergadering’ deur die ANC deurforseer, ten spyte van hewige protes deur opposisiepartye.
Die Vryheidsfront Plus se raadslid, Phillip van der Merwe het vooraf in ‘n sterkbewoorde brief die Speaker daarop gewys dat die vergadering onwettig belê was. Hy is deur die DA-koukus onder- steun. Die vergadering het egter nietemin voortgegaan.
Die ontwerpbegroting dien as besprekingsdokument vir die openbare deelnameproses wat in die komende weke geskied.
Voorgestelde tariewe vir dienste in die algemeen sal styg met 5,3%, eiendomsbelas- ting met 7,3%, maar elektrisiteitsvoorsiening met 18,7%. Laasgenoemde is gebaseer op verhogings wat die elektristeitsreguleerder (NERSA) onlangs vir Eskom goedgekeur het. Die elektrisiteitstariewe is dan ook onderhewig aan finale goedkeuring deur NERSA.
DA-lede het die voorgestelde begroting gekritiseer omdat dit vir ‘n verlies begroot – iets wat kragtens wetgewing en Nasionale Tesourie-regulasies onwettig is.
DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, segsman oor Ngwathe se finansies het aan Gazette gesê oortyduitgawes word weer ondervoorsien, soos in elke onlangse jaar. Hy sê voorts oortydbeta- lings is steeds buitensporig, en dat die ouditeur-generaal dit jaarliks kritiseer. Rdl. Schoonwinkel sê ander verwagte inkomste word weer oorskat, en uitgawes onderskat ‘iets waarteen ons en die VF+ elke jaar moet waarsku.’
Hy is van mening dat dit ‘uiters nalatig’ is dat die amptenary so min doen om verwaarloosde bates, soos Parys se Mimosa Tuine, en die Eeufeesterrein in Heilbron, as bron van inkomste te benut.
Die Vryheidsfront Plus se raadslid Phillip van der Merwe meen ook dat die beplande kragtariewe in die voorgestelde begroting onrealisties is. Dit deels omdat dit drasties verskil van dié van Eskom wat ‘n hoër tarief hef in wintermaande wanneer verbruik die hoogste is, terwyl die munisipaliteit een tarief regdeur die jaar hef. Ook omdat Eskom se tariefverhogings reeds in April in werking tree, terwyl Ngwathe sy tariewe eers op 1 Julie kan verhoog en dus vir drie maande die Eskom verhoging self moet absorbeer. “Dit ten spyte daarvan dat ek al minstens twee jaar daarop aandring dat elek- trisiteitstariewe markverwant en realisties moet wees” sê hy.
Hy aanvaar ook nie die wyse waarop onder meer vir depresiasie en skuldafskrywing voorsiening gemaak word nie.
Die konsepbegroting word nou aan die publiek voorgelê. Inwoners word aangemoedig om die media dop te hou vir plekke en datums waar vergaderings gehou sal word en om hul insette te lewer.
Die dokument is nou op die munisipaliteit se webwerf beskikbaar, asook by munisipale kantore en biblioteke in al vyf Ngwathe se dorpe.



