Foutiewe kragdrade aan ‘n lamppaal net agter die NG Kerk in 5de Straat, veroorsaak groot kommer in die gemeenskap.
Harry Visagie, ‘n gemeenskapsleier in Parys, sê die probleem kom al vir meer as twaalf maande aan.
“Die konneksie van die drade is nie reg gedoen nie. Wanneer die wind erg waai of dit reën, trip dit die krag of vat soms vlam. Die drade brand, dan kom maak die munisipaliteit dit reg. Dan brand dit weer. Dan kom maak hulle dit reg. Die probleem is egter dat dit nooit werklik ordentlik reggemaak word nie.”
Harry sê die probleem is al menige male by die munisipaliteit, die wyksraadslid en op die Service delivery WhatsApp-groep aangemeld, maar niks word werklik aan die problem gedoen nie.
By navraag het Steve Naale, woordvoerder van die Ngwathe munisipaliteit, gesê die probleem is na die tegniesespan deurgestuur.