‘n Reënstortvloed wat Parys Donderdagmiddag 7 November getref het, het groot skade agtergelaat.
Huise se dakke het afgewaai en bome het getuimel. Groot dele van die dorp se krag is steeds Vrydagmiddag 8 November nog af.
Verskeie mense het rapporteer dat hulle tussen 40 en 44mm reënval gehad het.
‘n Massiewe boom het in Oranjestraat geval en gelukkig het die eienaar van die huis geen skade weens die boom wat geval het, beleef nie.
Steve Naale, Ngwathe se munisipale woordvoerder, moedig inwoners aan om met hul onderskeie raadslede oor kragprobleme en skade te praat, wat sulke inligting met die munisipale tegniese span sal deel.
“Die span is reeds op die besig om te reageer op klagtes wat hulle ontvang. Daar is ook situasies waar bome wat op die grond is verwyder en paaie skoongemaak word.”
Joey Beukes sê hulle het haelskade aan ‘n lugverkoeler en ‘n verwoeste tuin maar is nogtans baie dankbaar vir die goeie reën.
“Geute het verstop van die blare en hael, toe reën dit by die sitkamer in. Ons matte is sopnat. Ons is nogsteeds baie dankbaar vir elke druppel,” het Jenny Merriman Malan gesê.
Kyk na die fotos hier:












