Lewenslank vir twee wat boer vermoor
Die twee het selfs onsuksesvol probeer om polisielede om te koop.
Wahasele Hazekiel Majoro (33) en Tumelo Martin Katali (41), wat Ephraim Diloro (71) in April 2022 op sy plaas in Koster vermoor het, het lewenslank tronkstraf gekry.
Sivenathi Gunya, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, sê een van die mans het as veewagter vir Diloro gewerk en het een aand saam met sy makker na Diloro se huis gegaan om glo geld te leen. ‘n Onderonsie het uitgebreek waarna hulle Diloro verwurg het.
Die twee mans het Diloro se bakkie gesteel om na Lesotho te probeer vlug, maar is by die Lesotho-grenspos in hulle spore gestop toe daar bevestig is die bakkie behoort aan die oorledene. Die twee het selfs onsuksesvol probeer om polisielede om te koop om hulle te laat gaan. Beide is in hegtenis geneem en met nog bewyse met die moord verbind.
Albei is tot lewenslank vir moord en 10 jaar vir diefstal gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.



