Pa sterf, baba leef
VANDERBIJLPARK. – ‘n Jong pa van die dorp het verlede week in ‘n ongeluk op die R57 tussen Vanderbijlpark en Sasolburg gesterf, maar sy ses maande-oue babadogter Bella, wat saam met hom in die voertuig was, het die ongeluk wonderbaarlik oorleef. Christo Meyer, wat in Augustus sy 30ste verjaardag sou vier, is op die toneel …

VANDERBIJLPARK. – ‘n Jong pa van die dorp het verlede week in ‘n ongeluk op die R57 tussen Vanderbijlpark en Sasolburg gesterf, maar sy ses maande-oue babadogter Bella, wat saam met hom in die voertuig was, het die ongeluk wonderbaarlik oorleef.
Christo Meyer, wat in Augustus sy 30ste verjaardag sou vier, is op die toneel dood verklaar. Bella is met ‘n helikopter hospitaal toe geneem. Sy is tans in die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Clinton Kliniek in Alberton.
“Sy herstel goed. Sy is op 22 Mei van die asemhalingsmasjien afgehaal en daarna is sy stadig uit sedasie gehaal. Sy het Saterdag weer bottel gedrink en die dokter is positief dat sy sal herstel.
“Sy reageer ook as haar ma, Joy-Ann, twinkle twinkle little star vir haar sing,” sê Wendy Enslin, ‘n familielid en woordvoerder vir die gesin. Christo het Bella verlede Donderdag soos gewoonlik na werk by sy ma in Vaalpark gaan haal. Hy en Bella was op pad om ousus Carmen (6) by die Laerskool Eligwa op te laai toe die tragiese ongeluk gebeur het. ‘n Motoris wat in die rigting van Sasolburg onderweg was, het vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor en oor die middelman gery. Sy voertuig het Christo se dubbelkajuitbakkie aan die bestuurder se kant getref. Dit is in die stadium nie duidelik waarom die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor het nie. Christo was in die bakkie vasgepen en het op die toneel aan sy beserings beswyk. Bella was steeds in haar karstoeltjie en het ernstige hoofbeserings opgedoen. “Die Here het met sy hand vir Christo van ons weggevat, want Hy het met Sy hart ander bedoelings vir Christo. Ons wat agterbly is baie hartseer, maar ons berus ons by God se besluit,” het mnr. Jan Meyer, Christo se pa gesê. Christo laat sy vrou Joy-Ann en dogters Carmen en Bella, skoonfamilie, sy pa Jan en sy vrou Sandra, asook sy broers Phillip en Mark, sy suster Annerie en sy ma Stina agter. “Christo se plek in die Lottering-huis sal vir altyd leeg wees. Hy was die beste pa vir Carmen en Bella en ‘n wonderlike man vir Joy-Ann, ons kon nie vir ‘n beter skoonseun gevra het nie. Ons almal het hom liefgehad soos ons eie kind en broer. Dis swaar om totsiens te sê. Die vraag ‘waarom’ sal seker altyd in die lug hang, maar ons weet die Here het hom kom haal omdat Hy hom nodig het daar bo in die Hemel. Ons sal hom nooit vergeet nie,” was die boodskap van sy skoonfamilie.
* Christo word Woensdag (vandag) om 12:00 vanuit die AGS-Suid Nuwe Lewe Tabernakel, h/v President en Wil



kockstraat in Sasolburg begrawe.