Nuwe begroting laat – “Amptenare brou”
Ngwathe-raadslede van alle partye het munisipale amptenare verlede week op ’n gesamentlike vergadering van die burgemeester se Taakspan oor die konsep-begroting, die Raad se Uitvoerende komitee en die Finanskomitee, skerp gekritiseer omdat hulle “aanhou faal om hul werk te doen.” Volgens wet moet ‘n munisipale begroting elke jaar voor of op 31 Mei deur ’n Raad oorweeg en aanvaar word. “Dis vanjaar in Ngwathe hoegenaamd onmoontlik, want die een konsep-begroting na die ander was só power dat dit terugverwys moes word vir korreksies en aanvulling,” sê DA—koukusleier Arnold Schoonwinkel.

Die Raad moes eergister dringend vergader om die provinsie te vra vir uitstel. Die nuwe begroting, wat vanaf 1 Julie geld, sal nou eers vandeesmaand bespreek en goedgekeur kan word.
“Uitstel was nodig, want die jongste konsep het steeds so van foute gewemel dat dit onbruikbaar was,” sê bekommerde Vryheidsfront Plus-raadslid Phillip van der Merwe. Hy sê ANC-raadslede, waaronder burgemeester Joey Mochela, is net so ontevrede as ons in die opposisie.
Rdl Van der Merwe sê dat amptenare gedurig verwagte inkomste totaal oorskat. “Beraamde uitgawes sal beslis nie daaruit gefinansier kan word nie,” voeg hy by.
Sowel hy as die DA het vroeër daarop aangedring dat “korrek en haalbaar” begroot word, ook vir Ngwathe se enorme agterstallige Eskom-rekening (nou reeds R500m).
Rdl Van der Merwe sê rente aan Eskom (tans reeds rondom R6m per maand) word wel in die konsep voorsien, “maar hoegenaamd niks om die agterstallige hoofsom van honderde miljoene rand te begin delg nie.”
Verskeie senior Ngwathe-amptenare was blykbaar sonder verskoning afwesig by ‘n belangrike bespreking verlede week. “Die agenda was ook onvolledig,” sê rdl Schoonwinkel.
Hy sê dis opvallend dat ANC-raadslede se geduld ook nou op is, en “ANC-raadslede Mandelstam en Khumalo was onomwonde in hul kritiek.”.
Rdl Van der Merwe, gesteun deur ander raadslede, het gevra vir onmiddellike tugstappe teen die betrokke amptenare. “Tug neem egter die begrotingsproses geensins verder nie, en harde werk is nog nodig om die begroting af te handel” sê Van der Merwe.
Gazette is ingelig dat ook die Vrystaatse Provinsiale Tesourie Ngwathe se konsep-begroting verwerp het.