Die moets en moenies van die ‘It’s Time’-bidbyeenkoms
OFM-Nuus se CHRISTAL-LIZE MULLER het die volgende inligting deurgegee vir mense wat die naweek se It’s Time byeenkoms gaan bywoon. Bloemfontein – Mense wat eerskomende Saterdag die “It’s Time”-bidbyeenkoms bywoon, wat deur die prediker Angus Buchan gelei word net buite Bloemfontein op die plaas Wilde Als, moet hul eie kampeerstoele saamneem. Koördineerder van die …
OFM-Nuus se CHRISTAL-LIZE MULLER het die volgende inligting deurgegee vir mense wat die naweek se It’s Time byeenkoms gaan bywoon.
Bloemfontein – Mense wat eerskomende Saterdag die “It’s Time”-bidbyeenkoms bywoon, wat deur die prediker Angus Buchan gelei word net buite Bloemfontein op die plaas Wilde Als, moet hul eie kampeerstoele saamneem.
Koördineerder van die logistieke reëlings, Joe Schoeman, sê in die oorspronklike beplanning wou die organiseerders blokbale van die gesnyde gras op die plaas ter voorbereiding van die saamtrek as sitplekke vir mense gebruik, maar weens ‘n tekort aan baalmasjiene vir blokbale is daar besluit dat ronde bale eerder gebruik gaan word as onder meer afskortings.
Schoeman sê dit is belangrik dat mense hul eie kampeerstoele saamneem. Hy sê die parkering se uitleg is van so aard dat mense nie ver afstande gaan aflê na die terrein waar die verrigtinge gaan plaasvind nie. Die verste afstand is sowat 2,5km wat mense gaan moet stap, sê hy.
Schoeman sê mense moet ‘n hoed, sonskerm, iets om te eet en baie water saamneem. Hy raai mense aan om eerder hul benodigdhede in rugsakke as in groot koelsakke saam te neem vir hul eie gerief wanneer hulle van die parkeerarea na die terrein moet stap. Hy sê slegs gasbraaiers en geen drank, glasbottels en glase asook vuurwapens word toegelaat nie. Hommeltuie is ook verbode. Hy sê diegene wat hommeltuie gebruik, sal beboet word en hul hommeltuie kan gekonfiskeer word, omdat daar helikopters na die plaas gaan vlieg.
Daar sal op die terrein voorsiening gemaak word vir areas waar mense hul gasbraaiers kan gebruik. Hy beklemtoon dat geen oop vure met hout of kole toegelaat word nie.
Die bidbyeenkoms begin om 12:00.
Met erkenning aan OFM-nuus



