Boelie-gedrag en sosiale media – ken die gevare en hoe jy dit moet hanteer
Die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) het op 12 Mei die Graad 5 tot 7 leerlinge van Parys Primêre Skool besoek en met hulle gesels oor sosiale media en boelie-gedrag. Die boodskap wat oorgedra is, was dat hoewel sosiale media ’n gerieflike manier is om met maats en vriende te kommunikeer, daar steeds baie versigtig met …
Die Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) het op 12 Mei die Graad 5 tot 7 leerlinge van Parys Primêre Skool besoek en met hulle gesels oor sosiale media en boelie-gedrag.
Die boodskap wat oorgedra is, was dat hoewel sosiale media ’n gerieflike manier is om met maats en vriende te kommunikeer, daar steeds baie versigtig met selfone en enige so-siale media gewerk moet word omdat daar gevare daaraan verbonde is.
Dit sluit onder andere in skadelike inhoud op die internet, identiteitsdiefstal, inbrake, teistering, agtervolging deur ’n vreemdeling en selfs ontvoering.
Die verskillende vorme van boelie-gedrag is:
* Fisiek
* Verbaal
* Sosiale- en kuberboelie
Dit is aan die leerlinge verduidelik en daar is aan hulle uitgewys dat sosiale media die boelie se nuwe speelgrond geword het.
Wenke is gegee oor hoe om jouself teen boelies te beskerm en hoe om op te tree as een van jou maats onder boelies deurloop. Leerlinge wat hulself in die definisie van ’n boelie herken, is ook aangemoedig om hulp te kry.
Wenke om jou kind teen kuberkrakers en –boelies te beskerm sluit in:
* Vertel jou kind dat hy nie elke uitnodiging moet aanvaar wat hy/sy op sosiale netwerke ontvang nie.
* Leer jou kind dink voor hy klik; nie elke skakel wat hy teëkom, is wat dit voorgee om te wees nie.
* Laat jou kind gereeld haar/sy wagwoorde verander.
* Jou kind moet verstaan dat hy nie alles oor homself op sosiale netwerke moet deel nie.
* Maak seker dat hy/sy privaatheidverstellings nagaan, dat geo-opsporing afgeskakel is en dat jou toestemming nodig is om dit te gebruik.
* Leer jou kind hoe om boelies in enige vorm te hanteer.
Moedig hom aan om met jouself, sy/haar onderwysers of ’n volwassene wat hy/sy vertrou, te praat indien hy/sy geboelie word.
Leer hulle egter ook om nooit geweld teen die boelie te gebruik nie, sodat hy/sy nie dalk self as ’n boelie uitgekryt word nie.
* Jy kan ‘n beskermingsbevel vir jou kind bekom teen ’n boelie ingevolge die Wet op Beskerming teen Teistering.
Dit is ook belangrik dat jou kind weet dat minderjariges tussen die ouderdom van 10 en 14 jaar, bewysbaar toerekeningsvatbaar is, met ander woorde, so ’n kind mag gearresteer word en kan skuldig bevind word aan ‘n misdryf indien die staat in die hof kan bewys dat hy/sy bewus was van die feit dat sy handeling krimineel van aard is.
Sodra ’n minderjarige die ouderdom van 14 bereik het, is die bewyslas op die minderjarige self om te bewys dat hy nie toerekeningsvatbaar was tydens die pleeg van die kriminele handeling nie.
Leerlinge is ook verduidelik wat die nadelige invloed is van ‘n kriminele rekord.
Hulle is ook aangemoedig om hulle probleme met hul ouers en onderwysers te bespreek.
* Die praatjie sou ook vandeesweek by die Weiveld Landbou- en Hotelskool aangebied word.



