Eikelaan sterf – gemeenskap kan help
Daar wel ’n manier vir die Potchefstroom gemeenskap, en veral die wat op die Bult woon of werk, om te help om die historiese Eikelaan te red. Daar is wel ’n manier vir die Potchefstroom gemeenskap, en veral die wat op die Bult woon of werk, om te help om die historiese Eikelaan te red. …

Daar is wel ’n manier vir die Potchefstroom gemeenskap, en veral die wat op die Bult woon of werk, om te help om die historiese Eikelaan te red.
Vandat daar in Januarie vanjaar vasgestel is dat die Eikelaan besig is om ’n stadige dood te sterf, het verskeie partye, organisasies en individue besluit om iets daaraan te doen, en so het die Eikelaan-komitee ontstaan. Die komitee probeer nou al vir die afgelope paar maande om oplossings vir die sterfte van die Eikelaan te kry. Een van hierdie oplossings behels die gemeenskap van Potchefstroom, die wat op die Bult woon of werk en die wat so ’n boom op sy sypaadjie het.
“Ons wil hê mense wat eikebome op hul sypaadjies het, moet dit aanneem en versorg,” sê Lennie Gouws, voorsitter van die Eikelaan-komitee. Sy sê verder dat die projek reeds ’n baie goeie gesindheid van die publiek gekry het, en daarom glo sy dat mense sal saamwerk om die bome te help versorg.
Die eikebome is uitheemse bome, en daarom kan hulle nie op hul eie oorleef nie. Hulle het meer water nodig as inheemse bome, en die sluiting van die leiwater vore en die besproeiingstelsel wat al langs die bome geloop het, het veroorsaak dat die bome al minder water begin kry het.
Telkens is een van die grootste bydraes tot die bome se slegte toestand, die plaveisel wat in 2005 onder die bome op die Bult gelê is, om dit meer toeganklik te maak vir Aardklopgangers. Hierdie plaveisel verhoed reënwater om by die bome se wortels uit te kom.
“Ons wil graag hê daardie plaveisel moet verwyder word, spesifiek op die bult. Ons wil hê mense moet die bome eerder aanneem en tuin onder hulle begin maak,” sê Gouws.
Die plaveisel rondom die bome bied plek vir ’n radius van sowat een tot twee meter rondom die boom se stam, waar water kan inkom, maar die bome se wortelstelsel strek egter baie verder as wat die boom se verste takke strek, en die punte van die wortels moet ook water kry.
“Om net die twee meter area rondom die bome nat te maak is nie die oplossing nie. As jy ‘n eikeboom op jou sypaadjie het, neem die boom aan en begin tuin maak onder die boom. Sorg dan dat die tuin gereeld water kry sodat die bome ook kan water kry.”
Indien daar plaveisel onder die boom op jou sypaadjie is, kan jy, volgens Gouws, probeer om toestemming te kry by die parke-afdeling om die plaveisel te verwyder sodat daar tuin gemaak kan word. “As daar plaveisel moet wees, dan beveel ons aan dat mense plaveisel lê wat water deurlaat, of gooi grys klippies in plaas van plaveisel sodat die water steeds die boom se wortels kan bereik.”
Nog ‘n klein maar integrale manier om by te dra tot die beskerming van die Eikelaan is deur nie onder die bome te parkeer nie.
“Hierdie dinge gaan alles tyd vat om in plek te kom, maar die belangrikste boodskap wat ons nou aan die publiek wil oordra, is om vir die bome water te gee, veral gedurende die groeiseisoen wat van September tot April is.
“Om nie onder die bome te plavei nie, en as daar plavei word, om dit met waterdeurlaatbare plaveisel te doen en om nie onder die bome te parkeer nie, kan alles bydra tot die verlenging van die Eikelaan se lewe.
Die moontlikheid van ’n tuinprojek op die Bult bestaan, maar gaan baie finansiële kostes dra.
“Enige iemand wat bereid sal wees om finansieel te help om die bome te probeer red, kan my skakel,” sê Gouws.
Sy kan gekontak word deur ‘n e-pos na lenniegouws@gmail.com te stuur.



