Oorlog teen Verklaarde Onkruid en Indringerplante in die Koepel
Hoewel die proses om die Vredefort Koepel tot Wêrelderfenisgebied te proklameer in terme van Suid-Afrikaanse wetgewing, nog nie afgehandel is nie, is dit duielik dat grondeienaars van die Koepel dit eens is dat ongewenste plante wat ingevolge die Biodiversiteitwet (Wet No. 10 van2004) en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) …

Hoewel die proses om die Vredefort Koepel tot Wêrelderfenisgebied te proklameer in terme van Suid-Afrikaanse wetgewing, nog nie afgehandel is nie, is dit duielik dat grondeienaars van die Koepel dit eens is dat ongewenste plante wat ingevolge die Biodiversiteitwet (Wet No. 10 van2004) en die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983) as Onkruid en Indringerplante verklaar is, beheer moet word. Ongelukkig is daar tans geen inligting om die omvang en graad van die probleem te bepaal nie. Dit het Piet Theron, afgetrede beampte van die Nasionale Departement van Landbou (DAFF) laat besluit om ’n poging aan te wend om inligting hieroor in te samel en het hy kundiges geraadpleeg om ’n webwerf op te stel wat gebruik kan word om ’n opname van die oorwegende spesies wat voorkom, te maak. Die opname is hoofsaaklik bedoel vir die Koepel, wat die buffergebied insluit, hoewel grondgebruikers direk aangrensend aan die buffergebied, ook kan deelneem. Die opname sluit 30 September vanjaar.
Die webwerf staan bekend as www.otop.co.za (Oorlog Teen Onkruid Projek). Twaalf spesies van verklaarde Onkruid en Indringerplante (OIP) is in die elektroniese opnamevorm ingesluit.
Die volgende spesies word as die mees belangrikste beskou:
1.Inkbessie/Ink Berry (Cestrum laevigatum) Kategorie 1.
2.Luisboom/Bugweed (Solanum mauritianum) Kategorie 1.
3.Seringbome/Syringa (Melia azedarach) Kategorie 1.
4.Populierbome/Populars (Populus alba & canescens ) Kategorie 2.
5.Soetpeulboom/Honey locust (Gleditsia triacanthos)
Alhoewel dit blyk dat die Luisboom tans nie wyd voorkom nie, word ’n ernstige beroep op grondgebruikers gedoen om waar hierdie onkruid voorkom dit onmiddelik uit te roei. Die aanbeveling is dat wanneer slegs enkele plante voorkom, dit nie nodig is om onkruiddoder daarvoor aan te koop nie, maar dit eerder uit te kap en te verseker dat sade wat dalk reeds gevorm het, op ‘n veilig plek uitgedroog en daarna deur verbranding vernietig word.Tydens die algemene jaarvergadering van die Vrystaat Grondeienaarsvereniging, het mnr. Theron grondeienaars gevra om aktief aan die projek deel te neem, aangesien goeie inligting hul kanse verbeter om hulp van die staat se Werk vir Water projek te kan kry. Daarom weer ’n ernstige beroep op alle grondeienaars om die opname in te vul wat beskikbaar is op die webwerf www.otop.co.za Meer inligting kan ook gekry word van Piet Theron by 083 460 9190 of piet@otop.co.za
Kyk in die volgende uitgawes vir meer inligting en foto’s van die spesies wat met die opname gekry is.




